Robbies op ‘n wenpad na Interhoër
Dit was voorwaar 'n groot week in Hoërskool Rob Ferreira se atletiekgeskiedenis.
Daar is vanjaar net geen keer aan die Robbies op die atletiekveld nie.
Hoërskool Rob Ferreira is die afgelope naweek as algehele wenners by die TWK Mpumalanga Interhoër aangewys, terwyl hul vorige prestasie as wenners van die Pukke Interhoër vir groep sewe en agt nog skaars ingesink het.
“Dit was voorwaar ‘n groot week in Hoërskool Rob Ferreira se atletiekgeskiedenis,” was omtrent al wat afrigter Stefan van der Merwe oor dié prestasies kon uitkry.
Die Mpumalanga-byeenkoms het op Ermelo plaasgevind, met Ligbron Akademie as die gasheer. Deelnemende skole was Heidelberg Volkskool, HTS Witbank, Middelburg, Oosterland, Ermelo, Lydenburg en Rob Ferreira.
Robbies het met 1 456 punte koning gekraai, met Ermelo (1 360) in die tweede plek. Heidelberg was derde met 1 309 punte en Ligbron vierde met 1 296.
Elke skool het ook 100 ondersteunende sangers met dirigente vir begeleiding op die paviljoene gehad. Hulle het uit volle bors gesing en die atlete aangemoedig en self gesorg vir ‘n skouspel met hul sang. Rob Ferreira se dirigente het ook die dirigenteaflos gewen om die dag op ‘n verdere hoogtepunt af te sluit.
Die atletiek was van hoogstaande gehalte, en sterk mededinging was op die veld en baan te sien.
Hierdie interhoër het in sy eerste jaar reeds ‘n maatstaf van hoogstaande gehalteatletiek gestel. Ligbron het ‘n uitstekende veld en baan voorberei en die byeenkoms uiters suksesvol aangebied.
Dit wissel jaarliks tussen die skole, met almal wat ‘n beurt kry om dit aan te bied. In 2020 sal Rob Ferreira die gasheerskool wees. Ermelo het die dogtersspankompetisie gewen en Rob Ferreira die seuns. Vyf atlete was individuele bekerwenners: Hope Madonsela as beste junior dogtersnaelloper (100 m), Caitlin Dehrman as beste junior spronge vir dogtershoogspring, Junior Mondlane as beste junior spronge vir seunsverspring, Sydney Mandelkorn as beste junior worpe vir seunskyfwerp en Lesedi Dibakoane as junior victrix ludorum.
Hoërskool Alberton het as gasheer vir verlede Maandag se Pukke Interhoër opgetree, met deelnemende skole Rob Ferreira (989 punte), Merensky (721), Alberton (713), Curro Hazeldean (666), Uitsig (660), Curro Serengeti (464), Maragon college (375) en St Stithian’s (213).
Rob Ferreira het die seuns- (524 punte) en dogtersafdelings (465) gewen om as algehele wenners aangewys te word.
Koue reënweer voor die aanvang van die byeenkoms het verrigtinge met ‘n uur uitgestel, maar daarna het ‘n sonnige dag pragatletiek opgelewer. Skole het slegs met hul nommer-een-atleet in alle items deelgeneem. Rob Ferreira se groottotaal van 989 was 268 meer as Merensky, wat tweede geëindig het.
Lowazi Mogodiri is as die beste senior veldatleet aangewys, en spanmaat Vuyo Ndlovu die beste senior baanatleet asook senior victor ludorum.
Lesedi Dibakoane het die junior victrix ludorum-toekenning ingepalm. Die hoogtepunt was egter die aflosse waar Rob nege uit die 10 gewen en die byeenkoms op dominerende wyse afgesluit het.
Top Robbie-presteerders met eerste plekke en ABSA-punte bo 900 sluit in Caitlin Dehrman o/14-dogtershoogspring (955 ABSA-punte ), Lowazi Mogodiri o/16-seunsverspring (905) en Vuyo Ndlovu 100 m vir seuns o/17 (905).
Van der Merwe sê hulle het besluit om aan NWU Pukke se interhoërreeks en die Mpumalanga Interhoër op Ermelo deel te neem sodat hul beste atlete buite die provinsie blootstelling kan kry.
“Ons beplanning en voorbereiding vir die Laeveld Interhoër is dus goed op dreef en ons verwag ‘n groot poging van ons Robbie-atlete by Lowveld High Saterdag,” belowe Van der Merwe.










