Geliefde besigheidsvrou sterf in botsing
Gretli, haar man Chris (47), hulle seun Pieter (10) en dogter Marli (18) was almal in die voertuig oppad terug na Lydenburg toe die ongeluk plaasgevind het.

LYDENBURG – Die gru-ongeluk wat Sondag op die N4/Middelburg hoofweg plaasgevind het, het die lewe van een van dié dorp se bekende besigheidsvroue geeis.
Gretli Steyn (42) van GMC Debt Solutions in Kerkstraat is dood toe haar gesin se Toyota Fortuner kop-aan-kop gebots het met ‘n ligte-afleweringsvoertuig.
Die hoofweg tussen Middelburg en Belfast was ten tye van die ongeluk besonder glad en dit het op plekke erg gereën.
Volgens polisie verslae blyk dit dat die twee voertuie mekaar sydelings geslaan het. Die bestuurder van die ander voertuig het glo beheer oor die kar verloor en die voertuig van Gretli se gesin in die proses getref het.
Gretli, haar man Chris (47), hulle seun Pieter (10) en dogter Marli (18) was almal in die voertuig oppad terug na Lydenburg toe die ongeluk plaasgevind het.
Gretli is op die toneel dood. Chris het sy voet beseer en van sy tone is gebreek, Marli se sleutelbeen is gebreek en Pieter word nog gehou vir observasie. Al drie is steeds in in Midmed hospitaal in Middelburg.
Die drie insittendes van die afleweringsvoertuig is opslag dood. ‘n Baba wat ook in dié voertuig was, is hospitaal toe gehaas, maar is dood verklaar na sy aankoms. Die dodetal vir die ongeluk staan dus op vyf.
Die botsing het omstreeks 16:00 Sondag plaasgevind.Teen 21:00 was verkeersvloei steeds belemmer op die hoofweg.
Lees die volledige berig in die week se koerant.
