Netwekkabel toerusting vir strikke
Telefoonpale wat op plase in die omgewing afgesaag word, hou verband met die toenemende misdaad wat sy kop hier uitsteek

Inwoners wat gereeld op die R37 reis sou dalk opgelet het dat talle telefoonpale plat lê met drade wat los hang.
Kwaaddoeners saag die pale af en gebruik een van die drade wat saam met Telkom se netwerkkabel aan die pale verbind is, om strikke vir wildstropery te maak. Hierdie draad bevat ‘n dunner koperkern binne die omhulsel wat dit meer buigsaam maak.
Boere sit met die hande in die hare. Op ‘n plaas sowat 12 kilometer buite Burgersfort boer Albert de Kock hoofsaaklik met beeste en sitrus. Sy plaasbestuurder, Leon Lombaard het al voorheen met Steelburger/Lydenburg Nuus gesels oor die toenemende wildstropery. Onlangs het dit egter drasties vermeerder en volgens hom hou dit verband met die telefoonpale wat een na die ander val.

Die stropery het so erg op dié plaas geraak, dat hulle privaat mense moes inkry om die veld te patrolleer. Volgens hom het hulle een aand twee van die vermoedelike grootbase, “King of the Jungle” en “Oscar” vasgetrek. Dié twee is op heterdaad betrap en polisiestasie toe geneem, waar hulle gearresteer en in selle geplaas is. Die volgende dag is hulle egter vrygelaat.
In ‘n latere stadium is hulle weer op die plaas betrap. Die stropers het toe vir Lombaard gaan wys hoe en watter pale hulle afgesaag het en erken dat hulle skuldig is. Lombaard het hulle weer na die polisiestasie geneem en aan die SAPD vertel dat hulle skuld erken het. Hy is egter weggewys en daar is nie ‘n verklaring by die twee verdagtes afgeneem nie.

Lombaard het aan Steelburger/Lydenburg Nuus foto’s verskaf en ook na die plek geneem waar hulle die strikke bêre wat verwyder is. Tientalle strikke hang aan bome en lê in hope opgestapel. Lombaard het ‘n handvol strikke opgetel en vertel dat dit net een aand se vonds is. Om die strikke te sien, is een ding, maar om die stories te hoor van die diere wat in die strikke gevang word, is hartverskeurend.
“Ons het eenkeer ‘n luiperd gekry wie se poot in ‘n strik was. Hy was in soveel pyn dat hy bome om hom ontwortel het in sy poging om te ontsnap. Die luiperd is later sonder sy vel in ‘n boom aangetref. Net verlede week het ons ‘n rooibokooi gekry wat gevang is. Toe ons haar bevry het, het sy swaar asem gehaal. Ons het haar probeer stabiliseer, maar sy is dood. Sy was dragtig en naby aan lam,” vertel Lombaard.

Dit is egter nie net op dié plaas waar stropery ‘n probleem is nie. Ander boere het ook reeds erg onder die stropery deurgeloop, het hy gesê.
Lombaard het die afsaag van pale aan Open Serve, ‘n kontrakteur van Telkom, gerapporteer. Bennet Mtopi van Open Serve het aan die koerant gesê hulle is besig om die pale te vervang.
