Local newsNewsNews

Tugtig of mishandel, daar is ‘n fyn lyn

Die Bybel is vol wyshede van groot skrywers, onder andere Salomo, wat meer as een keer klem plaas op tugtiging, maar is dit vandag nog relevant en wat sê die wet?

Salomo sê jy moet jou seun tugtig dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf. Hy noem ook dat as jy jou kind tugtig, jy hom uit die doderyk red. Daar is selfs ‘n gesegde wat sê: “Buig die boompie terwyl hy jonk is”. Al die bogenoemde kom neer op die aanneme dat jy jou kinders ‘n pak slae moet gee sodat hulle as goeie mense kan groot word.

Die wet bepaal egter anders. Steelburger/Lydenburg Nuus het met sosiale werker, Sharon Makofane van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) gesels wat onlangs haar meestersgraad in maatskaplike werk aan die Universiteit van Limpopo voltooi het.

Sy meen die wet bepaal dat almal die reg het om veilig te voel/wees – die klem val hier op kinders. Die Suid-Afrikaanse Kinderwet van 2005 Artikel 150 (1)(h) bepaal dat alle kinders die reg tot versorging en veiligheid het, en nie mishandel mag word nie. Dit is waar die lyn tussen ‘n geldige pak slae en mishandeling getrek word.
Makofane noem dat sekere aspekte in ag geneem moet word voor jy jou hand mag lig.

“Die rede hoekom jy jou kind wil slaan is die eerste waaraan jy moet dink. Jy kan jouself afvra of jou kind werklik iets gedoen het wat ‘n pak slae verdien. Die volgende vraag wat jy jouself moet vra is hoe jy dissipline gaan toepas? Gaan jy jou kind ‘n raps op die boud met die plathand gee, of ‘n vreemde en gevaarlike voorwerp gebruik? Jy moet ook in gedagte hou hoe die pak slae jou kind gaan affekteer. Gaan hulle huil en dit verwerk of gaan dit emosionele letsels laat? Hoe gereeld jy jou kind slaan is ook ‘n faktor. Dit kan bepaal of dit regtig nodig is en of dit mag van die gewoonte is,” sê Makofane.

Waarop dit alles neerkom is dat jou kind geen emosionele en fisiese letsels van sy pak slae mag hê nie. Dit kan jou in warm water beland, so wees versigtig hoe jy jou kind in die publiek sowel as by die huis tugtig.

Steelburger/Lydenburg Nuus het op sy Facebook-blad gevra wat lede van die publiek se opinie oor die saak is. Hier is wat ‘n paar mense van verskeie ouderdomme daaroor te sê gehad het:
• Monica Claassens: “‘n Pak slae op sy tyd, is soos brood en kontfyt. Daar is ‘n verskil tussen tugtig en mishandel. Die Bybel leer ons jy tugtig die wat jy lief het. Die regte vorm en mate wat jy dit toedien sal dissipline of haat afdwing.”
• Vallery Leandri Pieterse: “Ons het genoeg pak slae gekry. My ma het altyd gesê jou pak slae is baie nader aan jou as jou volgende bord kos, en dit het ons geleer om respek vir mense te hê. Vandag se kinders het dit nie meer nie.”
• Letitia Vrey: “‘n Pak slae is die beste ding ooit. Ons het baie pak gekry en vandag waar ek self ‘n ouer van twee seuns is, verstaan ek hoekom ek dit gekry het. Hulle sê mos buig die boompie terwyl hy nog jonk is. In vandag se lewe kan ‘n mens nie glo hoe sommige kinders met hulle ouers praat nie. Daar is geen respek teenoor ouers nie. Ek glo in pak slae en niemand kan my laat anders glo nie want ek was so grootgemaak.”
• Piet van der Merwe: “Dis daardie pak slae wat ek elke dag verdien het, wat van my ‘n mens gemaak het. Ja, ek was baie stout as ‘n laaitie. Vandag is ek dankbaar vir elke hou wat ek moes trotseer. Dit is wat my ‘n sterk ruggraat gegee het.”
• Emmerentia MC Pretorius: “Ek glo in ‘n pak slae op die regte tyd. Ons makeer niks vandag nie, behalwe dat ons respek het vir mense en die gereg. Daar is ‘n verskil tussen ‘n pak slae en aanrand! Ken die verskil! ‘n Ouer slaan ook nie in woede nie dan rig jy baie skade aan. Gee pak en verduidelik hoekom hy/sy dit kry! Ons moet ophou om ‘gehoorsame ouers’ te wees!”
• Riana Rossouw Erasmus: “Die Bybel sê buig die boompie terwyl hy jonk is. Ek glo my pak slae wat ek as kind gekry het, het van my ‘n beter mens gemaak met respek vir ouer mense. My kinders is ook grootgemaak met pak slae en vandag sê hulle dankie, want as jy sien hoe ander kinders met grootmense praat en hul behandel, dan glo ek slae op sy tyd is reg.”
The Bible states that disciplining your child is something that must be done. But what does the law say about it? Before you lift your hand, keep in mind the Child Protection Act of 2005 Article 150 (1)(h). This indicates that every child has the right to safety and security. So keep in mind how you discipline your child, with what, the reason and consistency or duration of punishment. No child should be left scarred emotionally or physically.
Indien jy van hierdie artikel gehou het, lees volgende week die opvolg oor dissipline in skole; hoe dit ouers, kinders en onderwysers raak.
If you enjoyed this article, read the English follow-up in next week’s paper regarding discipline in schools and how it affects parents, pupils and teachers.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button