Chris Karsten deel sy loopbaan met Laevelders
By dié boekgesprek wat by A Bica-koffiewinkel gehou is, het Karsten vir Laevelder-joernalis Arisa Janse van Rensburg van sy loopbaan as skrywer en joernalis vertel.

MBOMBELA – Nie eens die intense Laeveldse hitte ná hy Kanada se bibberweer gewoond geraak het, ‘n hees stem en seer keel kon Chris Karsten keer om by verlede Donderdagaand se Pen in my Hand-geleentheid met die gehoor te kom gesels en hulle aan sy lippe te laat hang nie.

‘n Vraag oor een van sy karakters, Ella Neser, het die gehoor laat giggel.
“Sy is nie gegrond op een vrou nie, maar ek het eerder die beste eienskappe van ‘n paar vroue wat ek ken gevat en haar gemaak,”
het Karsten gesê en bygevoeg dat dit die rede is waarom hy so baie van haar hou.

Hy het ook vertel dat sy loopbaan as joernalis dikwels sy skryfwerk beïnvloed, veral in boeke in die ware misdaadreeks.
“Dit is egter vir my baie makliker om fiksie te skryf aangesien jy dan kan besluit waarheen die storie gaan. Dit is egter ook baie belangrik om navorsing te doen en soortgelyke goed te lees as dit wat jy graag wil skryf,”
het Karsten gesê.

Hy het ook vertel dat dit vir hom beslis ‘n uitdaging was om Suid-Afrika se goue meisie, Charlize Theron, se biografie te skryf.
“Tot vandag toe wil Charlize niks van die boek af weet nie,” het Karsten gebieg. Volgens hom is dit veral hier waar sy joernalistieke vaardighede handig was aangesien dit hom gehelp het om bronne na aan haar op te spoor om sodoende die boek te voltooi.

Karsten se nuwe boek, Koms van die Motman is ‘n opvolger van Seisoen van Sonde en word in Oktober vrygestel.
“Dié boek staan nogtans op sy eie. Jy hoef nie eers Seisoen van Sonde te lees om dit te kan verstaan nie.”

Talle lede van die gehoor het ook vrae aan Karsten gestel en het aan die gesprek deelgeneem. Daar was ook geleentheid vir lesers om hulle boeke deur die skrywer geteken te kry.
