Wesie help om uitwissing van spesie te bekamp
Die Voortrekkers se Arthur, 'n renosterwesie wat by Care for Wild woon, is nou verewig in kunswerke.

MBOMBELA – Die Voortrekkers se Arthur, ‘n renosterwesie wat by Care for Wild woon, is nou verewig in kunswerke.

Dié sal nou help om fondse in te samel om na renosterwesies om te sien.
Skilderye en bronsbeelde ter waarde van R250 000 is vir Die Voortrekkers se renosterprojek geskenk.
Volgens dr. Danie Langner, hoofleier van die organisasie, het hulle reeds in 2017 by die bewusmaking van renosterstropery en die bewaring van dié deel van ons natuurerfenis betrokke geraak.
Laerskool en hoërskool Voortrekkerspanne het met sente en rande in renosterspaarbussies ‘n bedrag van
R100 000 vir die versorging van renosterwesies by Care for Wild ingesamel. Tydens dié geleentheid is die renosterkalf Arthur simbolies as ‘n Voortrekker ingelyf as deel van ons bewusmakingsprogram,” vertel Langner.
Care for Wild is die grootste renosterweeshuis en -toevlugsoord ter wêreld. Dit is een van ‘n klein hoeveelheid rehabilitasiesentrums in Mpumalanga wat amptelik deur die Krugerwildtuin gebruik word om na renosterwesies om te sien en hulle te huisves. Dié niewinsgewende organisasie is in 2001 deur Petronel Nieuwoudt begin. Arthur is een van die renosterwesies waarna Care for Wild omsien nadat hy in Mei verlede jaar self onder die kapmesse van stropers deurgeloop het toe sy ma vir haar horings gestroop is. Die verhaal van Arthur, wat langs sy ma se karkas gevind is, het Jacques Müller, ‘n Pretoriase skilder en beeldhouer, aangegryp.
Ek besoek jaarliks die Krugerwildtuin en het besef as ons die unieke natuur wil bewaar, het elkeen van ons ‘n verantwoordelikheid om betrokke te raak. Ons kan nie langer op die kantlyn as toeriste bly staan nie, maar moet betrokke raak om renosters van uitwissing te red. Ons moet meer doen as om te sê hoe bekommerd almal oor die slagting is.”
Müller se skenking behels vyf olieverfskilderye van 1,2 m by 1 m ter waarde van R30 000 elk, asook vier versamelaarsbronsbeelde met afbeeldings van renosters op klip en marmer ter waarde van R12 500 elk. Hy giet ook vyf unieke bronsbeelde van Die Voortrekkers se renosterpenkop, Arthur, ter waarde van R10 000 elk. Müller hoop dat Die Voortrekkers die kunswerke kan verkoop vir die versorging van Arthur en die ander renosterwesies.
Omdat renosterbewaring Carinda Habig, ‘n Voortrekkeroffisier van die Rietvallei-Voortrekkers in Pretoria so na aan die hart lê, het sy in 2018 die inisiatief geneem om fondse vir renosterwesies in te samel. Sy het dié bewusmakingsprojek, Renoster Red is Vet Pret, in werking gestel en eindelik is byna 2 000 renosterspaarbussies onder Voortrekkerspanne versprei. Toe het almal begin besef om ‘n renoster te red, is inderdaad vet pret en sodoende is R100 000 met hulle spaarsente en -rande ingesamel.
Volgens Habig word daar steeds te veel renosters gestroop.
“Elke renoster wat gestroop word, is een te veel. Ten spyte van die geweldige harde werk en insette was daar in die afgelope jaar steeds ongeveer 2 500 bevestigde voorvalle en pogings in die Krugerwildtuin. Dieselfde misdaadsindikate wat betrokke is by renosterstropery is betrokke by mensehandel en dus is hierdie nie meer net ‘n natuurbewaringsprobleem nie. Die mens word direk hierdeur geraak. Stropings in onder andere die Kruger raak nie net die renosters nie en nog diere wat afgemaai word sluit onder andere die ietermago, olifant en wildehond in. Selfs sekere bome word geteiken waarvan die bas gebruik word vir die maak van tradisionele medisyne.”
Daar word elke dag drie renosters doodgemaak vir hulle horings. Die wreedheid van hierdie misdade oorskry alle redelike denke, maar danksy die ingrepe van toegewyde mense het die getalle van stropery drasties gedaal.
Müller is ‘n voltydse, professionele kunstenaar wat sy inspirasie uit die natuur put. Sy skilderye en beelde “leef” in vrede saam deur die gebruik van abstrakte elemente soos kleur in sy skilderye en beide organiese en anorganiese voorwerpe in sy beelde om ‘n realistiese geheelbeeld te skep.
Die kortstondigheid van die lewe is duidelik sigbaar in sy werke waar sy werke nooit perfek afgerond is nie om die onvermydelikheid van tyd te beklemtoon. Hy maak beleggingsbeeldhou- en skilderwerk in opdrag van korporatiewe maatskappye en private versamelaars.
Sy werk is ingesluit in verskeie versamelings regoor Suid-Afrika, Australië, Italië, Dubai en die VSA.
Hy het verlede jaar ‘n splinternuwe beeld uit marmer en graniet gemaak vir pres. Paul Kruger se graf in die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria nadat dit gevandaliseer is. Dit is op 10 Oktober, op Kruger se verjaardag, ingewy.

Müller het vanjaar ook ‘n bronsborsbeeld van dr. NJ van der Merwe, eerste hoof en medestigter van die FAK, gemaak. Die beeld, getiteld Toekomsargitek is op 8 Februarie by die FAK se hoofkantoor in Pretoria onthul.
Vir navrae skakel Langner by 084-257-9164.
Local heroes head to help Cyclone Idai victims
Twee Laeveldse dorpe ding mee in Kwêla se Dorp van die Jaar
