Gholfers gaan verteenwoordig Limpopo by spog geleentheid
Tubatse Chrome Buiteklub kan met reg trots wees op twee van hulle gholfspelers

Thinus Labuschagne en Tyron Luck is vir die Limpopo-distriktespan gekies wat in Mei op Plettenbergbaai gaan deelneem.
Labuschagne is ook as kaptein van dié span aangewys.
Dit is die eerste keer in die klub se geskiedenis dat twee spelers hulle provinsie by die Nasionale Plattelandse Distrikstoernooi verteenwoordig.

Om te kwalifiseer, het hierdie manne baie tyd op die baan deurgebring. Hulle het aan talle ope toernooie deelgeneem en moes aan streng kriteria voldoen om in aanmerking te kom vir die span.
Die twee gaan in die A-afdeling deelneem waarin kleiner provinsies soos Limpopo, Vrystaat, Noordwes, KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap ook meeding. Elke span bestaan uit agt spelers.
Labuschagne meen dat dit vir hom ‘n groot verrassing was om te hoor dat hy as kaptein aangestel is. Dit is iets wat hy verseker nie verwag het nie.
“Ons sien uit na lekker kompeterende gholf en om teen die beste van die beste te speel,” sê Labuschagne en Luck.
Altwee die manne het op junior vlak begin speel en daarna tot provinsiale vlak gevorder en verder op amateurvlak deelgeneem.

Die twee het in ‘n stadium probeer om professioneel te speel, maar meen dat dit baie harde werk vereis en dat “dit ‘n makliker uitweg is om eerder te werk vir ‘n lewe”. Vir hulle is dit ‘n eer om aan die toernooi deel te neem. “Ons sien uit na die kameraadskap en die spogregte indien ons wen. Dit gaan ook lekker wees om saam met ander spelers met verskillende vaardighede in ‘n span te speel.”
For the first time in the Tubatse Chrome Country Club’s history, two players were selected to play in the Country Districts Golf Tournament taking place in May in Plettenberg Bay. Thinus Labuschagne (also captain of the team) and Tyron Luck will compete in a team of eight players against four other provinces. They are excited to take on this challenge and are proof that dedication pays off.
