Downsindroom hou nie dié man terug nie
Gemma en Boet Botes het op 16 Maart 1969 hul eersteling in die wêreld verwelkom. Vooraf kon hulle nie weet dat Lourens downsindroom het nie.

MBOMBELA – Lourens Botes se ouers het dit onmiddellik aanvaar.
Hy het op 16 Maart 50 geword. Dit is ongewoon vir iemand met hierdie sindroom omdat hul lewensverwagting korter is.
“Hulle sê so,” beaam Gemma. “Ek weet van ‘n paar ander, maar hulle is nie so gesond nie.”
Loutjie is baie gesond en neem geen medikasie nie, hoewel hy deesdae nie meer so goed kan hoor nie. “Ek dink dit is omdat ons so mooi na hom kyk,” sê sy ma.
“En hy en sy pa geniet elke aand ‘n glasie rooiwyn,” voeg sy by.
Hy was tot op 17 in Wenakker in Lydenburg op skool. Hy het elke naweek huis toe gekom na die familieplaas op Curlews waar hy saam met sy nefies en niggies grootgeword het. Lourens is die oudste.
LEES OOK: Offline systems at home affairs frustrate locals
“Hy het ons almal leer swem en fietsry,” sê Colin Pretorius (42), die jongste van die kinders. “Hy is baie liefdevol en saggeaard en rustig. Hy het ons dit ook geleer.”
Vir Lourens se verjaardag het die familie ‘n groot partytjie gehou.

‘n Verrassingsgas was “sussa” oftewel Lea Lope, wat sowat 30 jaar gelede vir agt maande as ‘n uitruilstudent van Amerika by die Botes-gesin tuisgegaan het. Daar was baie trane met haar en Lourens se hereniging.
“Ek sal hom nie verruil vir 10 ander kinders nie,” voeg Gemma by. “Hy is so ‘n maklike mens. Dit is so ‘n voorreg. Hy is die spil waarom ons gesin draai.”
Pretorius se sussie, Zenel Butler (47), vertel hoe hulle saam kos maak. “Hy is baie onafhanklik en selfstanding – en netjies,” voeg sy by.
Hy is ook absoluut dol oor musiek, veral klassiek, opera en Afrikaans.
“Die hele familie bederf hom verskriklik,” sê Gemma – met uitstappies, kuiers, konserte en musiek DVD’s.
“Hy het alles gedoen wat ons gedoen het,” onthou Zenel. Hy het nooit spesiale behandeling gekry nie. Hy was altyd saam met ons stout ook.”
Hy praat ‘n bietjie onduidelik, maar steeds verstaan hulle mekaar goed. Butler beskryf hom as ‘n “liefdebom”.
“Hy hou van mense om hom en omgee en om nie te baklei nie. Hy het ons geleer om lief te wees vir almal.”
SIEN OOK: Bekende kospersoonlikheid stel kookboek bekend in die Laeveld
