Skuldig aan poging tot moord
Annemarie van der Heever (Mulder) het haar man, Seef Mulder in 2013 probeer vermoor.
MBOMBELA – Annemarie van der Heever (Mulder) het haar man, Seef Mulder in 2013 probeer vermoor.
OPVOLG: Man praat oor beweerde skietvoorval
Sy is onlangs in Carolina se streekshof skuldig bevind op die klag, het die Nasionale Vervolgingsgesag bevestig.
Die 51-jarige Van der Heever is ‘n voormalige omroeper by 100.5 FM (Radio Laeveld). Sy het op 2 Oktober 2013 haar man tydens ‘n woordewisseling vier keer geskiet.
Die plaaslike koerant op Middelburg, Middelburg Observer, het destyds berig dat Mulder op die stoep van hul meenthuis gestaan het toe hy met ‘n .38-rewolwer in die rug geskiet is. Hy is twee weke lank in die intensiewesorgeenheid van ‘n hospitaal behandel.
“Hy was nog besig om alles gereed te kry vir ‘n braai toe hy die eerste skoot hoor klap, waarop nog drie kort op mekaar gevolg het,” het die koerant berig. “Kort daarna het hy gehoor hoe die deure gesluit word en ‘n voertuig vertrek. Mulder het aanvanlik vooroor geval, maar was bang hy sou verdrink in sy eie bloed en het op sy sy gedraai.
Bure het hom later hoor kerm en die opsigter laat kom, waarna hy agter die bank op die stoep in ‘n plas bloed gevind is. Van der Heever het haar in dié tyd aan die polisie gaan oorgee.”
Daar is voorts berig dat sy kort na haar eerste verskyning teenoor ‘n joernalis opgemerk het dat sy emosioneel en fisies mishandel is. Mulder het later vir die betrokke joernalis gesê dat daar wel argumente was oor “haar jaloesie”.
Hy het die bewerings van fisiese mishandeling ontken en gesê dat sy hom “met die vuis op die ken geslaan het en toe sy weer op my afstorm, het ek my arm uitgesteek om haar van my weg te hou. Dit is al wat gebeur het”.
Die egpaar is etlike maande na die skietvoorval geskei. Van der Heever sal na verwagting op 20 Mei in Middelburg Streekshof verskyn vir vonnisoplegging.
