Vrou kook uit haar eie sak om behoeftiges te help
Een vrou het die nood aan vars tuisgemaakte etes vir diegene wat dit nie kan bekostig nie, raakgesien en 'n voedselskema begin

BURGERSFORT – Lee-Ann du Preez besit ‘n koffiewinkel in Burgersfort. Sy is reeds by haar kerk betrokke waar sy kos skenk, maar sy het gevoel dat sy iets meer wil doen. Sy het die CMR (Christelike Maatskaplike Raad) genader en haar dienste in Burgersfort sowel as by die AGS-gemeenste in Steelpoort aangebied.
Du Preez is bekend in die dorp vir haar lekker etes, so enigeen wat ‘n kospakkie van haar ontvang, word verseker bederf.
Sy het begin om donasies en skenkings by mense wat sy ken vir haar voedingskema te vra. Kort daarna het die CMR haar vertel van ‘n behoeftige man wat vir ‘n week lank kos nodig gehad het. Sy het dadelik aan die werk gespring en ‘n heerlike tuisgemaakte warm ete voorberei en gaan aflaai. Anonieme skenkers wat van haar skema gehoor het, het dadelik ingespring en donasies gebring.
“Die verskil wat ek wil maak, is om ‘n warm ete te verskaf. Dit is maklik om vir iemand ‘n blikkie kos in die hand te stop, maar dit is nie goed genoeg vir my nie. Ek wil ‘n daadwerklike verskil maak,” vertel Du Preez.
Indien iemand kos wil skenk, kan hulle dit by Glamazon se Decades-koffiewinkel in die Aloe SPAR-sentrum aflaai. Dit kan vars bestanddele wees of nie-berfbare produkte. Sy het geriewe om vleis te kan bêre.
Indien iemand ‘n behoefte het aan ‘n ete, gaan besoek gerus die CMR-kantoor by die NG Kerk in Burgersfort of AGS in Steelpoort en reëlings sal van daar af getref word.
