Local newsNewsNews

Rugbyspeler verlam in arm na losgemaal

Hy het die ergste gevrees en in sy gedagtes was net die hoop dat hy sy ongebore baba nog eendag in sy arms sou kon vashou

LYDENBURG – Pieter Bothma (25) slot van die Ratels-rugbyspan het Saterdag tydens ‘n wedstryd teen die Rooikatte ‘n nekbesering opgedoen en het na hy van die veld af is, inmekaar gesak. Hy het geen gevoel in sy regterarm en beide hande gehad nie.

Bothma is steeds in die hoësorgeenheid van die Unie Hospitaal in Alberton. Sy ergste vrese dat hy dalk verlam kon wees, is egter deur ‘n neuroloog besweer.
Volgens hom was hy in ‘n losgemaal betrokke waar dit vir hom gevoel het of iemand of iets op sy nek geval of getrap het.

Omstanders en spelers het die ergste verwag veral na hy inmekaar gesak het.
Paramedici was dadelik byderhand en het noodhulp toegepas. Hy is na die Lydenburg Hospitaal vervoer waar hy gestabiliseer is.

Van hier is hy per ambulans na Belfast Hospitaal geneem waar hy per helikopter na Alberton gevlieg is. Weens mis en gure weersomstandighede kon die helikopter nie na Lydenburg vlieg nie en moes hy na Belfast vervoer word om gevlieg te word. Omdat hy aan engtevrees ly, is hy vir die vlug verdoof.

“Al wat in daardie stadium vir my saak gemaak het, was my swanger vrou en die hoop dat ek die gebruik van my hande en arm sou behou om my dogtertjie eendag normaal te kon vashou,” het Bothma vertel.

Na sy opname is hy dadelik na die hoësorgeenheid geskuif. “Sy regterarm en hande was steeds gevoelloos en hy was in erge pyn,” vertel sy verloofde, Andrea Barnard wat hom in die hospitaal ondersteun en pal aan sy sy is.”

Dokters het vermoed dat hy sentrale spinale sindroom opgedoen het wat beteken dat die spinale koord aan die binnekant gekneus is. Hy het verskeie toetse sowel as ‘n MRI-skandering ondergaan om te bepaal of die kussinkies of werwels in sy nek nie geskuif het nie.

“Ons wag nog op die uitslae. Hy sien ‘n neuroloog daagliks en kry fisioterapie. Hulle behandel hom tans vir naarheid en hoofpyn deur ‘n drup. Hy is ook op ‘n hartmasjien omdat sy pols effe laag is. Verder is sy nek nog in ‘n stut en mag hy hom glad nie beweeg nie.”

Volgens Barnard is hulle van mening dat die verlamming tydelik is en dat hy mettertyd weer gevoel sal terugkry in sy hande en arm.

Dit is die eerste jaar wat Bothma vir die Ratels as slot uitdraf. “Die besering was ‘n aaklige gevoel, ek sal dit vir niemand toewens nie. Soveel goed het deur my kop gegaan en dit was baie pynlik. Dit het gevoel soos ‘n ewigheid voor die ambulans opgedaag het.”

“Ek het ‘n groot liefde vir rugby, ek is nie van plan om op te hou speel nie, afhangende van wat die uitslae van die dokters is,” vertel Bothma.

A player of the Ratels Rugby Club is currently in the Union Hospital in Alberton after a spinal cord injury that occurred during a match in Lydenburg.
Pieter Bothma (25) felt a thump on his neck during a scrum movement. When he went off the field to put ice on his neck, he collapsed. His right arm is temporarily paralysed and he lost the grip in both his hands. Doctors are positive that he will recover from this injury. Bothma said he’s not done with rugby yet, and if the doctors allow it, he will be back on the field soon.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button