
MBOMBELA – Een van die Laeveld se grootste bome het op Paassondag geval. Cornelius Johannes Booyens (Corn) is op 77-jarige ouderdom na ‘n kort siektyd oorlede.
Dié voormalige skoolhoof van Hoërskool Nelspruit het diep spore in die gemeenskap getrap en ‘n groot impak op duisende Laeveldkinders in sy 28 jaar by die skool gehad.
LEES MEER: Legendariese oud-skoolhoof sterf tydens Paasnaweek
Corn, wat weens ‘n jarelange bokbaardjie ook as Bok bekend was, het aanvanklik in die wetenskappe studeer en as jong man by African Explosives gewerk. Maar die onderwys het hom geroep en hy het in 1960 by Hoërskool Goedehoop begin.
Hy is 1967 met sy vrou Rina getroud en hulle het op verskeie dorpe saam skoolgehou tot hy in 1976 by Hoërskool Nelspruit aangestel is.

In 1978 is hy tot hoof bevorder en hiér het ‘n kleurryke tydperk vir die skool begin. Hier het die Booyens-egpaar ook hul kinders Hannes, Alida en Susan grootgemaak.
Met ‘n plan vir môre
“Met ‘n plan vir môre” het Corn die skool saam met sy gemeenskap ontwikkel tot een van die land se spogskole. ‘n Restaurant, hotelskool, rekenaarsentrums, konferensiefasiliteite, museum en die beste sportfasiliteite is maar enkele uitsonderings van dié nalatenskap.
Dit was nie altyd maanskyn en rose nie en in 1992 is die Booyens-gesin direk deur die politieke spanning geraak toe regse ekstremiste ‘n bom by hul woning op die skoolterrein geplant het. Hulle tuiner is in dié aanval dood.
Hy het hom egter nie laat onderkry nie en in 1994 was die skool geïntegreer en het die eerste swart leerlinge by Nellies ingeskryf – steeds met Afrikaans as onderrigmedium.

Dr. Louis Swanepoel wat in 2004 die leisels as hoof oorgeneem het, vertel hoe hulle een oggend in 1994 by ‘n topbestuursvergadering ingestap het nadat die nuwe nasionale vlag die vorige dag afgelewer is.
“Gaan ons hom vandag hys?” was die vraag om die tafel. Almal het benoud rondgekyk, onseker oor wat hul te doen staan. “Gaan ons hom eendag hys?” het Corn gevra.
“Ja” het almal instemmend geknik. “Wel, kom ons maak dit maklik en doen dit sommer vandag,” het hy die besluit net daar en dan geneem.
Visionêre leier
Swanepoel sê dit was tekenend van sy bestuurstyl. “Hy was ‘n visionêre leier wat respek afgedwing het. As iemand aan ‘n probleem dink, het hy aan die oplossing gedink. Mnr. Booyens het ‘n fyn aanvoeling gehad vir alles om hom.”

Volgens hom was Corn altyd op die voorvoet. Sy gewilde sêding was, “As jy skrik, skrik net vorentoe,” en hy het nie toegelaat dat die skool momentum verloor as hulle uitdagings in die gesig gestaar het nie.
“Hy het ‘n wonderlike verhouding met sy beheerliggaam gehad en hulle gekoester. Beide partye het geweet waar die grense was, maar Corn was altyd gereed met ‘n aksieplan en het besluitneming bespoedig,” verduidelik Swanepoel.
Iemand wat dit alte goed weet en beaam, is Jakkie van Heerden wat vanaf 1991 tot 2004 as voorsitter van NHS se beheerliggaam gedien het. “Ek het die hele proses vanaf ‘n staat-, na model C- tot ‘n post-1994-skool met hom deurgemaak.
“Corn het twee jaar vooruit gedink. Hy het met die oorskakeling na ‘n model C-skool vir ons gesê dat NHS ‘n staatskool sal wees wat net so goed soos enige privaatskool sal presteer. Dit was sy visie en hy het sy doelwit bereik.”

Van Heerden sê hoewel Corn soms as ‘n korrelkop voorgehou is, was dit meer omdat hy blatant reguit was en alles altyd korrek gedoen het. “Hy het ‘n passie vir sy werk en mense gehad. Ons het in al daardie jare nooit vasgesit nie.”
Drie belangrike pilare
Corn het volgens Swanepoel op drie belangrike pilare gefokus.
“Hy het eerstens stabiliteit en sekuriteit aan sy personeel verseker. Hy was moontlik streng, maar het die regte omgewing vir groei geskep.
“Corn het altyd gesê as dit by kinders kom, moet ons hulle nie oordeel vir hul foute nie, maar eerder ‘n geleentheid skep om so ‘n kind weer op koers te kry.
“As gemeenskapskool het hy volgehou dat ons die Laeveld sal dien en nooit kinders sal koop om te wen nie. Hierdeur het hy volle vertroue in sy eie skool se leerlinge geplaas om bogemiddeld te presteer.”

Laastens het Corn sterk op sy gemeenskap gesteun en altyd ‘n lansie gebreek vir die sakeleiers.
Swanepoel sê Corn het aan onderwys status gegee. “Hy het die waardes van onderwys geleef en dit was duidelik in die sukses wat hy behaal het.
Sy voetspoor was veel wyer as die Laeveld en as die president van georganiseerde arbeid by die Suid-Afrikaanse Onderwysunie het hy die professie tot nuwe hoogtes help neem.”

Sy impak het nie ongemerk verby gegaan nie en Corn is in 2004 deur die Nasionale Departement van Onderwys vereer met ‘n lewenslange prestasietoekenning.
Na sy aftrede het hy die politiek aangedurf en vanaf 15 Maart 2006 tot 11 Mei 2011 as DA-raadslid in Mbombela Munisipaliteit gedien.
Roelf Kotzé was ten tye hiervan die munisipale onderbestuurder by die raad en sê ook hier het Corn bewys watse strateeg hy was.

Het toevallig vandag aan hom gedink sonder dat ek van sy afsterwe geweet het. Ek was die dag by in die stadsraadsvergadering toe die ANC-raadslede voorgestel het dat John Vorsterrylaan na Enos Mabuzarylaan verander moet word.
Corn staan toe op en sê hy wil ‘n teenvoorstel indien. Die ANC-lede was dadelik reg om te veg.
Toe sê Corn dat die pad na dr. Enos Mabuzarylaan vernoem moet word want hy was doktor Mabuza en hy het hom geken en het die hoogste respek vir hom gehad. Noodeloos om te sê hy het almal se respek verdien. Hy was ‘n fyn strateeg.
‘n Voormalige stadsklerk en goeie vriend van Corn, Dirk van Rooyen, praat ook net goed van hom: “Corn sou nooit iets vra nie, hy het altyd begin deur jou te bedank vir wat jy nou vir die skool gaan doen.
“Ons het jare lank met mekaar te doen gehad, maar na ons beide se aftrede het ons vriende geword. Dit was ‘n groot hoogtepunt toe ons in 2011 vir ses weke saam deur die Richtersveld, Namibië en Botswana kon toer.
Corn het die hele toer haarfyn uitgewerk met datums, ruitverwysings en presies wat elkeen nodig gehad het.”
Corn se aftreetydperk

Die laaste paar jaar van sy lewe het die Booyens-egpaar op Modimolle (Nylstroom) gaan aftree. Hulle het die land platgery met sy selfgeboude woonwa. Dít was sy ander groot liefde.
Corn het sedert 1968 sewe van sy eie woonwaens gebou wat hy Corina 1 tot 7 gedoop het en in ‘n Weg-artikel in 2016 het hy self geskryf oor die groot plesier wat hierdie stokperdjie hom verskaf het.
‘n Paar maande gelede het ‘n hartkondisie hom begin pla en het hy veral met suurstoftekort gesukkel. Sondagnag is hy stil in sy slaap oorlede.

Sy dogter Susan sê: “Hy was ons rots, die spilpunt waarom ons familie gedraai het. ‘n Eggenoot, pa en oupa soos geen ander, en tog ‘n vaderfiguur vir vele.
“Ons lewe is verryk, en ons is ewig dankbaar dat ons gekies is om hierdie ongelooflike man te ondersteun en lief te hê en die nabye toeskouers te kon wees van die uitsonderlike rol wat hy gespeel het in sy leeftyd.
“Hy het graag gesê: ‘As jy iets gaan doen, doen dit reg!’ Ons liewe pa het die lewe REG gedoen. Ons is stukkend, maar trots. Verewig trots op die legende.”

Hy laat sy vrou Rina, kinders Hannes, Alida en Susan, hul gades Sunita en Conrad, as ook sy sewe kleinkinders Louhan en Leandro Booyens, Anli en Hanru du Toit, Surinel, CJ en Divan Buitendacht, agter.
‘n Gedenkdiens is gister by die NG Kerk in Modimolle gehou.
Op sosiale media het een oudleerder geskryf: “Stil kêrels, daar gaan ‘n man verby”, ‘n ander het gesê, “Ek is nou nog bang om in die bed te bly as ek siek is. Bok het altyd gesê meer mense gaan in die bed dood as daarbuite.”
Dié inskrywing: “Mnr. Booyens, jy sal gelukkig wees waar jy nou is, want jy was gelukkig waar jy was” het vir almal wat hom geken het, sag op die oor geval. Menige oud-Nellie gaan nog hul Bok se wyshede van geslag tot geslag oordra.
Hy het waarlik verdien om die palmtak te dra.
Palmam qui meruit ferat.
Op sosiale media

Eerbare man met ongelooflike integriteit gewees! RIV.
Christine Naudé: Dis ‘n siel wat vir ewig voortleef. Jy gaan gelukkig wees waar jy nou is, mnr. Booyens, want jy was gelukkig waar jy was.

‘n Man van mense… ‘n vader van presteerders… sommer net ‘n mens-mens wat ons altyd in ons kop gehoor het. Wat ‘n wonderlike mens. RIV.


Zinta Kymdell
Rus in vrede, meneer Corn Booyens. ‘n Skoolhoof wat karakter gebou het, drome geïnspireer het, kreatiwiteit aangemoedig het, vertroue gebou het, om te leer aangemoedig het, ons harte aangeraak het en ons lewens vir ewig verander het. Palmam qui meruit ferat!

Leon Hoyer
Raak ek nou stil want inderdaad gaan ‘n groot man verby. Rus in vrede, mnr. Booyens.

Andries Jacobus Bester
Totsiens, my kroon. Ons gaan jou nie maklik vergeet nie.Piet van Zyl: Saluut en RIV. Een van die Laevelders wat diep spore getrap het oral waar hy gegaan het. Nagte by hom gesit en gesels na ‘n baie traumatiese ondervinding in hul lewe en hy het dit nooit vergeet nie. Innige simpatie aan die familie.

Alta Weys
Hy was ‘n merkwaardige man… baie by hom geleer. Ek salueer ‘n meneer.

Ilona Petzer
Inderdaad ‘n merkwaardige man! Hy het my uit die Lugdiens kom haal om by Hoërskool Nelspruit te gaan skoolhou in 1982. Soos hy vir Chris gesê het: “Ek voer haar in vir jou”. Ses-en-dertig jaar se getroude lewe later is ons steeds dankbaar vir sy matchmaking.

Adel Erasmus
Baie veelsydige mens… het nou nog tafel in my huis wat sy skepping was. Weet hy kon ook waentjies en karavane bou. Kon ook die skool se dak eienhandig help verf. RIV oom Corn.
LEES OOK: NHS neem afskeid van geliefde skoolhof
