Leerders van Marloth-privaatskool herleef die Paasverhaal
Die leerlinge van Loeri.in Privaatskool het verlede Saterdagoggend as deel van hulle Paasfeesvieringe Jesus se kruistog vir sewe kilometer langs die dorp se hoofstraat nageboots.
MARLOTHPARK – Motoriste in die dorp is verlede Saterdag begroet met ‘n groep kinders en grootmense wat met ‘n groot kruis op die skouer die hoofpad afstap.
Aletta Veldsman verduidelik dat die kinders van Loeri.in Privaatskool, wat tussen die ouderdomme van drie en 18 is, al sedert die vorige Sondag die Paasverhaal herleef het. Die kinders het elke dag Jesus se pad gevolg, die Paasmaal geëet en ook deur die nagmaal van sy dood en opstanding geleer. Die skool het Donderdag voor Goeie Vrydag hul bedrywighede met ‘n les oor die kruisiging afgesluit.
Saterdagoggend het kinders en ouers beurte gemaak om tydens die staptog ‘n groot kruis met ‘n doringkroon te dra.

“Dit was vir elkeen ‘n wonderlike ervaring. Ek glo nou dat elke leerling weet dat Paasfees oor Jesus se kruisiging en opstanding gaan en nie meer die paashaas najaag nie,” meen Veldsman.
Mense wat verby die groep gery het, het hulle aangemoedig en die skool het daarna hul stalletjie by die Marlothi Paaskermis gaan beman. Veldsman vertel dat baie mense oor die kruis gevra het en dit afgeneem het.
LEES: Marlothi Easter fair once again draws hundreds
Dit is die eerste keer dat die skool ‘n kruistog onderneem, maar hulle reël elke jaar ‘n geleentheid met ‘n tema uit die Bybel.
Die skool het verlede jaar die geboorte van Jesus gevier met ‘n Kerssangdiens. Sowat 80 besoekers en inwoners van Marlothpark het dit bygewoon.
LEES: Marloth organisations give annual feedback on town’s issues
Loeri.in Privaatskool bestaan al vir vyf jaar en leer kinders van die Onderberg en Mosambiek volgens die KABV-belynde Impaq-kurrikulum. Die geregistreerde Christelike onafhanklike skool onderrig tans 22 kinders van gr. 1 tot 12 en bied aan hulle verskeie aktiwiteite soos sport, ‘n revue, kuns en spanboukampe.
Kinders en ouers gaan saam met die skool se personeel werk om aan die einde van die jaar ‘n musiekkonsert met tuisgemaakte instrumente te hou.
Hulle hoop ook om volgende jaar met Paasfees ‘n passiespele vir die gemeenskap aan te bied.
Belangstellendes is welkom om die skool te kom besoek en kan hulle navrae rig aan Alette by 072-087-0110.
