Super Sokkie verdryf die koue tydens Innibos se afskop
'n Witwarm feesweek soos min is gisteraand met 'n eiesoortige Huisgenoot Super Sokkie ingelui en uit die staanspoor het die voete behoorlik gejeuk om 'n paar draaie op die dansvloer te gooi.

Innibos se organiseerders weet net hoe. Om na 16 jaar steeds vars te bly en duisende se verbeelding te prikkel en in ‘n beswyming te laat, spreek van ‘n feesvuur wat nog lank in ons harte gaan brand.
‘n Witwarm feesweek soos min is gister-aand met ‘n eiesoortige Huisgenoot Super Sokkie ingelui en uit die staanspoor het die voete behoorlik gejeuk om ‘n paar draaie op die dansvloer te gooi.
Gelukkig kon die feesgangers vir die eerste keer sedert die fees se bestaan, dié lus op verskeie dansvloere blus, wat bygedra het tot die beste, prettigste, feestelike ervaring nog.
Die vertoning het op ‘n hoë noot begin, met die talentvolle Mpumalanga-jeugkoor se weergawe van die volkslied wat deur die gehoor toegejuig is. ‘n Opskop soos min was daarna aan die orde van die dag. Die trant was effe anders as gewoonlik, met kunstenaars wat in ‘n Afrikaans is Groot-styl bymekaar ingelas het.
Dié styl het die aand interessant gehou met geen definitiewe idee van wie volgende die verhoog sou betree nie. Dit het gesorg dat alle oë op die verhoog vasgenael gebly het.
Soos verwag, het paartjies op die maat van gewilde Afrikaanse popmusiek gesokkie. Kurt en Die Campbells was eerste aan die beurt en het gesorg vir die warmste winter wat die Laeveld nog gehad het met gepaste treffers soos Laat die Dansvloer Brand en Footloose wat oud en jonk terstond met die feesgees aangesteek het.

Snotkop en Ricus Nel het onder andere die tempo van die vertoning gelig met van SA se grootste snitte, soos Hardekole en Souserig, om maar net ‘n paar te noem.
Nog ‘n eerste vir Innibos was die kans om ‘n R100-geskenkbewys van Phat Boys Beerhouse los te slaan, sou die kamera sy visier op jou instel. As’t ware ‘n kiss cam.
Jay en Lianie het oudergewoonte die toeskouers bekoor met onder meer ou-bekendes soos Da’ Vat Hy. Juan Boucher se Onthou Jy Om Jonk, en Liezel Pieters, bekend as die stem wat SA se asems wegslaan, het die harte warm laat klop.
Wat egter opvallend was, is waarskynlik die mees legendariese en bekende Klipwerf-orkes wat sedert 1969 bestaan, wat effe stief ontvang is. Hulle het egter oud en jonk – met ‘n bietjie hulp van die dansvloer – met ‘n huppel gelaat.
Soos Adelene Niehaus, hoof van kunstenaarskakeling vooraf tereg voorspel het, het die voete tot laataand geraas en kan ‘n mens nie anders as om kinderlik opgewonde te wees oor waarmee die organiseerders vanaand vorendag gaan kom nie.
