Koos Spinnekop
Dit is die bynaam wat hierdie unieke man deur die jare gekry het as gevolg van aangetrokkenheid met dié geleedpotiges.

Koos de Wet onthou dat hy as jongman al ‘n groot liefde vir die natuur gehad het. Dit is ook waarom hy vir ‘n BSc-graad by Unisa ingeskryf het en dit in 1984 voltooi het. Kort voor lank is hy aangestel as wetenskaplike van ongewerwelde diere by die Transvaalse Direktoraat Wetenskaplike Dienste met die doel op bewaring van dié spesies.
Die omvang van sy studies het Noordwes, Gauteng, Limpopo en Mpumalanga ingesluit. Sy studieveld het ook die in- en uitvoer van die verskeie spesies en omgewingsstudies ingesluit.
Hoewel hy met enige ongewerwelde spesies gewerk het, insluitende alle insekte en selfs skoenlappers, was daar een spesie wat sy aandag geboei het. Dit was spinnekoppe, veral bobbejaanspinnekoppe. Die rede vir sy belangstelling was omdat hulle destyd bedreig was, en daar min beheer oor die in- en uitvoer van dié spinnekoppe was. “Mense het hulle in leë toiletpapierrolle gesit en die kante geseël. Hulle is dan so wêreldwyd versprei,” vertel De Wet. Hy het ook die voorreg gehad om ‘n nuwe spesie te omskryf.
Met die verloop van tyd het De Wet besluit om sy meestersgraad te doen. Die fokuspunt was die spesie Ceratogyrus darlingi, of in Engels beter bekend as “the African horned baboon spider”. Hierdie spesie was ook destyds bedreig, en ten spyte van baie navorsing en impakstudies, bly dit steeds die geval.
Die aanhou van spinnekoppe as troeteldiere is volgens De Wet van vroeë jare al gewild. “Dit is onwettig om enige bobbejaanspinnekop aan te hou. Jy moet ‘n permit hê en indien jy daarsonder is, kan jy in groot moeilikheid beland.”
Tans is hy ‘n omgewingskonsultant, help hy met natuurbewaring en staan boere by met bestuursplanne. Hy het egter hoop vir die spinnekopspesies van Suid-Afrika. “Groot gedeeltes van die land begin die fokus verskuif na wildboerdery. Dit skep ‘n geleentheid vir die spinnekoppe om hul habitat te behou en suksesvol aan te teel sonder versteuring.”
In sy vrye tyd reis hy graag deur suidelike Afrika. Hy was ook ‘n duikinstrukteur en duik steeds graag wanneer hy die geleentheid kry.
Hy meen die grootste wanpersepsie rakende spinnekoppe is dat hulle gevaarlik is. “Daar is ‘n handjievol spinnekoppe in Suid-Afrika wat gevaarlik is, maar nie dodelik is nie,” vertel De Wet.
Suid-Afrika beskik oor 120 verskillende soorte bobbejaanspinnekoppe, en om dit so te hou moet mense hulle eerder in die natuur los.
