Local newsNews

Jongman vertel van berou na aanranding op onderwyser

Vandag vat Llewellyn egter volle verantwoordelikheid vir sy optrede. Met 'n eerlike, reguit blik vertel hy hoe hy heeltemal "kop verloor" het.

Die sagte stem weerspreek die bad boy-reputasie wat die skraal jongman – ‘n tiener wat sy onderwyser aangerand het – vooruitloop.

“Vandag is ek skaam oor wat ek gedoen het, en met die nagevolge is ek net spyt oor wat daardie dag gebeur het,” vertel Llewellyn van der Linde in ‘n skor stem.

LEES OOK: Kind rand onderwyser aan in Mbombela

“Daardie dag” was 5 Maart verlede jaar, toe hy ‘n onderwyser, Richard Prinsloo, by Hoërskool Bergvlam in laasgenoemde se klas met die vuis bygedam het.
Prinsloo was so getraumatiseerd dat hy later bedank het. “Ek sal nooit weer voor ‘n klas kan staan na wat gebeur het nie,” het Prinsloo aan Laevelder bevestig.

Llewellyn was tydens die voorval nog ‘n minderjarige, maar het in sy kort lewe reeds meer trauma ervaar as wat enige kind moes. Dit sluit in om te aanskou hoe sy ma, slegs etlike weke voor die aanval op Prinsloo, voor sy oë deur ‘n bakkie doodgery is. ‘n Ooggetuie op daardie toneel het gesê dit was afgryslik, en dat sy deur die lug gevlieg het.

LEES OOK: Assault case against pupil withdrawn

Hy het nie die gewone sprokieskinderlewe gehad nie, en Prinsloo het ook bevestig dat die onrustige tiener ‘n produk van die swak maatskaplike sisteem is.

“Llewellyn is al genoeg gestraf in sy lewe. Nou is sy lewe vernietig, en my lewe is vernietig.”

Vandag vat Llewellyn egter volle verantwoordelikheid vir sy optrede. Met ‘n eerlike, reguit blik vertel hy hoe hy heeltemal “kop verloor” het.

 

“Ek was nog besig om my ma se dood te verwerk, en het gevoel of die wêreld net niks goed inhou nie. Ek was kwaad; kwaad vir die wêreld, kwaad vir almal. Ek het nie geweet met wie ek kan praat nie, en ek wou nie kommunikeer nie.”

Hy voeg by dat hy net ‘n glimlag op sy gesig geplant het “al wou ek nie smile nie”.
Op die dag van die aanval was hy besig om na sy Engelse klas te stap, toe hy deur Prinsloo genader is met die briefie om ‘n maatskaplike werker te gaan sien.

LEES OOK: Teacher allegedly assaulted by student at Hoërskool Bergvlam

“Ek het kwaad geword, en vir die meneer gesê ek het mos gesê bly uit my sake, ek gaan met niemand praat nie.” Hy laat sak sy kop en verduidelik dat hy net alles wou vergeet; dat hy gedink het as hy dit nie aanspreek nie sal hy dit vinniger verwerk.

Dit is egter hier waar daar twee weergawes van die oorsaak van die aanval is. Llewellyn beweer dat Prinsloo toe glo vir hom sê: “in daardie geval, gaan huil by jou ma,” maar Prinsloo ontken dit ten sterkste.

Die 19-jarige sê hy het homself probeer in toom hou, “maar ek het gekook van woede; ek het vir myself gesê ek gaan nie toelaat dat iemand teenoor my oorlede ma disrespek toon nie, nie na alles wat sy deur is nie.”

Hy sê hy kan niks onthou van die volgende paar minute nie. “Ek het net ‘n blank geslaan, toe ek bykom was ek in die skool se badkamer saam met die ou wat my van die meneer afgetrek het.”
Wat hom egter bybly van die dag is die vrees in die ander kinders se oë.

“Ek was so skaam, ek wil nie so geken word nie. Ek was geboelie op skool en by die huis, ek is deur baie abuse, en ek weet hoe vrees voel.”

‘n Jaar en ‘n half later het hy nou sy humeur onder beheer. “Ek was vir berading vir my emosionele probleme. Dit was ‘n program wat ses maande geduur het.”

Hy het ook baie lof vir sy oom en tannie wat hom ondersteun het. Hy verduidelik trots dat hy nou ook werk en studeer. “Dis maar moeilik om by albei uit te kom, maar ek probeer hard.”

Hy gun homself egter nie ‘n ruskans nie.

“Ek het dit op myself gebring en moet maar die nagevolge daarvan dra.”

Dit is duidelik dat hy sy donker geskiedenis probeer afskud en het ‘n duidelike toekomsplan. “Ek wil eendag my eie plaas koop en jong kinders help wat in my skoene is. Ek wil aan hulle wys dat almal hulle drome kan bereik, en mees belangrik, dat hulle hul harte moet oopmaak vir ander mense.”

Polisiewoordvoerder Erhard Stroh het gesê dat die Nasionale Instituut vir Misdaadvoorkoming en die Herintegrasie van Oortreders (NICRO) aanbeveel dat die klag van aanranding met die opset om ernstige liggaamlike skade aan te doen, teruggetrek word.

Prinsloo dagvaar nou die minister van onderwys vir miljoene in skadevergoeding, onder meer omdat hulle versuim het om ‘n veilige werksomgewing te verseker.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Lande Willemse

Landé Willemse is a multiple-award-winning journalist and editor with more than two decades of experience across print, digital, and broadcast media. Her work, which includes photography, spans investigative reporting, sport, agriculture, tourism, political and community news, with bylines across several respected South African publications.
Back to top button