Local newsNews

GALLERY: ’n Reusefees op ‘die grootste dansvloer in Afrika’

Die heel eerste Trots Laeveld Fees was 'n reuse sukses en plaaslike feesgangers het die vermaak baie geniet.

MBOMBELA – Die eerste Trots Laeveld Fees het Maandag om 18:00 by die Mbombela Stadion meer as driedubbel die verwagte besoekers getrek. Die dag, ter herdenking van Erfenisdag wat Dinsdag gevier is, het hope vermaak vir die hele gesin gebied, met ‘n verskeidenheid kos- en drankstalletjies wat deur meer as 800 mense geniet is.

Gewilde Afrikaanse kunstenaars, Pieter Koen, Pieter Smit en Piet Pompies het gesorg dat die geniepsige koue windjie wat Maandagaand die Laeveld geteister het, gou vergete was, met vuurwarm vermaak wat die dansvloer laat oorloop het van danspaartjies. Die kaartjies was vooraf beskikbaar by Radio Laeveld teen ‘n skrale R50 per persoon of by die ingang teen R80.

Kinders onder die ouderdom van 12 het slegs R10 betaal en voorskoolse kinders het die geleentheid gratis bygewoon. Die reuk van ‘n eg Suid-Afrikaanse osbraai het die lug gevul en die bywoners het lekker gesmul terwyl hulle gewag het vir die Pieters om op die verhoog te verskyn.

Pieter Smith.

LEES OOK: Are you ready to crawl this weekend?

Daar was talle pryse te wen vir die toeskouers met ‘n lootjietrekking van hulle toegangskaartjies. Radio Laeveld se stasiebestuurder, Robin Jansma, was aankondiger vir die aand. Hy het die stasie-aanbieders, Sanett Oosthuizen en Neels Kemp, na die verhoog geroep om hulle aan die luisteraars voor te stel. Jansma het almal verwelkom na die “grootse dansvloer in Afrika” en almal aangeraai om die aand terdeë te geniet.

Die twee aanbieders het die toeskouers vriendelik geterg voor die gaskunstenaars hulle beurt op die verhoog geneem het. Pieter Rischmüller, oftwel Piet Pompies, het na die optredes verwys as “Pieter tot die mag drie” en die trio het almal laat skater van die lag met hul geskertsery. Die gewilde kunstenaars het hulle weergawe van “Sweet Caroline” deur Neil Diamond gesing en dit was asof die koue glad nie bestaan nie, toe almal ‘n lekker dans met hul metgeselle op die dansvloer geniet het.

Piet Pompies.

LEES OOK: Long Tom Pass claimed the lives of 27 British tourists in 1999

Koen was eerste aan die beurt met ‘n paar van sy gewildste liedjies, en die samesyn, sang en dans het ‘n vrolikheid geskep terwyl almal saam gekuier het. Volgende aan die beurt was Pompies en Smith met hulle gewilde liedjies.

Die bywoners het die aand die koue wind trotseer, en was teenwoordig by ‘n ongetwyfelde eg Afrikaanse aand van gesellige kuier en van trots Afrikaanse vermaak deur puik kunstenaars wat hulle persoonlikhede en talent op die aand gestempel het.

Gaan kuier op ons Facebook-blad vir ‘n video van die aand se optrede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button