VF Plus gesaboteer
Boosdoeners het Sondagaand die Vryheids-front Plus se plakkate vir die komende munisipale verkiesing verwyder.
Volgens Gerda Venter, kandidaat vir die VF Plus in Wyk 12, is die plakkate teen lamppale opgesit, maar Maandagoggend was daar geen teken daarvan nie.
“Dit moes Sondagnag verwyder gewees het. Die plakkate is hoog bo teen die pale opgesit. Dit is meestal die plakkate in Voortrekkerstraat wat verwyder is. Diegene wat dit verwyder het, moes dit beslis met die hulp van ‘n bakkie en ‘n leer gedoen het. Net die kabelbinders het aan die pale oorgebly.”
Die VF Plus bestempel dit as “ongevraagde sabotasie en ‘n boikot”.
Venter het bygevoeg dat die VF Plus nie sal vrees nie. “Korrupsie sal ons nie onderkry nie. Is daar nêrens meer integriteit aan die orde van die dag nie?”
Om verkiesingsplakkate gedurende ‘n verkiesing te verwyder is onwettig. Volgens die OVK is die ontsiering, verwydering of beskadiging aan enige verkiesingmateriaal tydens ‘n verkiesing ‘n ernstige strafregtelike oortreding.
Voor enige verkiesing word ‘n gedragskode ook geteken.
Die VF Plus het egter Woensdag weer hul verkiesingsplakkate op die pale aangebring. Die tussenverkiesing vind op
9 Oktober plaas.
