Vlammies kuier in die Kaap
Hoërskool Bergvlam se toerisme-leerders het gedurende die skoolvakansie die lang pad aangedurf Kaapstad toe.


Hulle het met groot afwagting vroegoggend opgestaan en na O.R. Tambo Lughawe in Johannesburg vertrek. ‘n Atmosfeer van opgewondenheid het by die leerders geheers. Hul vlug was wel ‘n klein bietjie vertraag, maar hulle het uiteindelik vertrek.
LEES OOK: ‘n Nuwe tradisie sien die lig by NHS
Met hul aankoms in die moederstad is die groep met ‘n sterk, ysige wind tegemoet gekom, maar die leerders het verwonderd na Simonstad se “Scratch Patch” gegaan om vir hulle klippies uit te soek.
Die toerisme-onderwyseres by die skool, Louise Maree, vertel: “Ek het nog nooit sulke kinderlike opgewondenheid oor klippies gesien nie.”

Hul reisplan het die erfenisgebied by Kaappunt ingesluit en Maree het gesê: “Dit was baie steil om tot bo by die ligtoring te kom, maar hier steel die wit en rooi ons harte. Ons het nie vir een oomblik stilgesit nie, op busse na die akwarium, V&A Waterfront, Tafelberg, Houtbaai, pikkewyne, vis en skyfies, Fiela se Kind, Chris Barnard Museum en Cool Runnings-teater.”
Die groep leerders en hul onderwyseres het ‘n volle halfuur gewag om op te gaan Tafelberg toe, maar volgens Maree was die wonderskoon uitsig die moeite werd.
“By die Chris Barnard Museum het ons verwonderd gestaan oor die wonderwerk wat die hele wêreld aan die praat gehad het. Die eerste hartoorplanting; mens kon die nostalgia voel.”
‘n Vinnige rit was volgende, by Cool Runnings, waar jy in beheer is en baie vinnig die berg afgaan.
“Op pad huis toe was almal se harte seer; ons wou net nog ‘n bietjie tyd saam deurbring en die mooie Kaap geniet.”
“Ons vlug terug na O.R. Tambo was vertraag van 16:10 na 20:00, maar dit het beslis nie ons toerisme-leerders gekeer om die laaste vier uur in die Kaap op die lughawe te geniet nie.”
