Local newsNews

Kameraadskap in die natuur saam met die Lowveld Ramblers

Lede van die Lowveld Ramblers het in die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin gaan stap en toe saam 'n ontbyt geniet by die Red Leaf Fig Teetuin vir hul jaarlikse jaareindviering op Saterdag 9 November.

Die oggend het begin met ‘n staproete deur die beeldskone reënwoud in die tuin wat lei na die hangbrug oor die Krokodilrivier.

Daarna het die stappers die tuin se clivias en inheemse bome bewonder, soos hul al langs die oewerroete afbeweeg het.

Kameras is nader gebring vir ‘n vinnige selfie by die Cascades-waterval en ook by die uitkykpunt waar die Krokodilrivier en die Nelsrivier ontmoet.

“Ek is verslaaf aan stap,” sê Christabell Cilliers (83), ‘n langstaande lid wie al 37 jaar aan die klub behoort.

Van Cilliers se hoogtepunte van 2019 saam met die Ramblers, sluit in die Mtumi-stap aan die walle van die Mac Mac-rivier en ook by die Castle Rock Karavaanpark na die Bridal Veil-waterval.

“Toe ek destyds by die klub aansluit het, het ‘n nuwe era in my lewe begin. Oor die jare het ek sulke lekker vriende gemaak,” vertel Cilliers.


Een so ‘n vriendin is die 84-jarige Bess Schutte (84), ‘n stigterslid van die klub wie ook die dag saam kom geniet het. Oor ‘n stewige ontbyt vertel Schutte aan die ander wandelaars van haar eerste stappie.

“Ons was net drie – ek, my seun wie toe nege jaar oud was en die voorsitter, Corrie Scheepers. Ons het gaan stap waar die Nelspruit-gholfbane vandag is. Toe was daar net veld en klipkoppe.”

Die klub se sekretaresse, Sanette Mattheus, spoor jonk en oud aan om hulle stapskoene aan te trek en ook die kameraadskap in die natuur te kom geniet.

 

“Ons doen elke Saterdag ‘n stappie en dan is daar ook naweekstaptogte en selfs oorsese stappe. Laas maand was ek saam met die klub in Mauritius en dit was beslis ‘n hoogtepunt van my jaar.”

LEES OOK: 5 plekle om ‘n selfie te neem in Nelspruit

Mattheus se raad aan nuwe stappers is “daag net op.”Dra gemaklike skoene en klere en onthou jou botteltjie water en ‘n versnapering, dan is jy gereed vir die dag se stap.”

Mense wat geïnteresseerd is in die klub kan vir Elsa Lategan skakel by 083-557-4430 of hul Facebook blad besoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button