Ons Winkel sprei sy vlerke na Canary Walk Mall
Ons Winkel het Dinsdag sy heropening in Canary Walk Mall in Besterstraat gevier.
Dié winkel, ‘n skenkingswinkel van Solidariteit Helpende Hand, is vir die afgelope twee jaar en nege maande vanaf Bellstraat 15 bedryf.
“Ons, saam met ons ongelooflike Helpende Hand-taklede, ondersteuners, skenkers, vriende en familie, het die winkel uit sy nate laat bars. Ons het besef ons mense het baie meer nodig. Die visie en doel om armoede te verlig en mense op te hef moet weer herdink word. Daarom het ons besluit om die winkel te skuif, want ons mense het meer en beter nodig,” het Marlene van der Walt van Ons Winkel gesê.
Enigiets kan hier afgegee word – van ou klere, meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne en speelgoed tot skoene, sporttoerusting en tegnologiese ware.

Van der Walt raai veral aan om skenkings, soos byvoorbeeld speelgoed, vir kinders te maak met Kersfees om die draai.
LEES OOK: Laerskool Laeveld beloon toppresteerders
Die geld wat Ons Winkel insamel is ten bate van onder meer Helpende Hand se studiefonds. Die fonds bied rentevrye studielenings aan behoeftige studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie geld het daarvoor nie.
Van die geld word ook gebruik vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om Afrikaner-armoede te verlig, te verbreek en te voorkom.
“Ons strewe om nou ons nuwe winkel tot baie groot hoogtes te neem. Ons ruggraat is ons skenkers: hul bydraes laat ons winkel blom. Ons kopers is die mense wat met groot harte en deernis hier kom koop, wat graag ‘n verskil maak in ander se lewens. Ons droom is om ‘n lewensaar te skep – ‘n enorme ketting van skenkers, kopers and vrywilligers – om Ons Winkel te laat ontwikkel tot een van Mpumalanga se beste winkels.”

LEES OOK: Vliegongeluk van 16 jaar terug word steeds onthou
Vir meer inligting of om ‘n skenking te maak, bel vir Van der Walt by 084-410-9422.
