Eens ‘n inwoner, altyd ‘n inwoner
Eens 'n inwoner van die Laeveld, Witrivier spesifiek, en 'n deel van jou hart bly altyd hier. Selfs al verdien jy nou jou brood aan die ander kant van suidelike Afrika, in 'n woestyn in 'n buurland.
Dis ook die geval met Amanda en Johan Oberholzer en hul seun Louis, wat na jare se sakedoen in Witrivier al sedert 2010 die gewilde avontuuronderneming, Dune 7 Adventures naby Walvisbaai in Namibië, besit en bestuur.
Laeveldse gasvryheid vier daar steeds hoogty.
Terwyl Johan en Louis gaste op vierwielmotorfietse die Namib se groot duine inneem, of hulle op hul mae teen die duine laat afgly op sandboards, onthaal Amanda die minder dapperes met vloeibare lafenisse onder die gesellige lapa by hul basis, of is sy met haar besondere sandkuns besig.
Amanda skilder met Namibië se vele kleure sand: van die byna gitswart magnetiet wat met sterk magnete in die Namib opgetel word, tot fluweelrooi sand uit die Kalahariwoestyn en al die aardse skakerings tussenin.
Dit wat sy nie self in die hande kan kry nie, bring toeroperateurs wat die land deurkruis vir haar van hul omswerwinge af.
LEES OOK: Wyne spog met unieke name
Van haar werke wat in die onderneming se gesellige ontvangsarea uitgestal word, bevestig haar besondere talent om van so ‘n alledaagse element lieflike kuns te skep.
Die ontwerp word met gom “geskilder” waarna die verkose kleur sand delikaat daarop gestrooi en geplak word.
Haar Suid-Afrikaanse wortels vertoon steeds duidelik in die prominente portret van Madiba, terwyl heelwat wilde diere, veral die Groot 5, ook goed verteenwoordig is.

Die kunsvorm leen hom natuurlik besonder goed tot enige etniese ontwerp, en portrette van verskillende inheemse Suid-Afrikaanse kultuurgroepe voltooi die prentjie.
Amanda vertel dat hulle baie gelukkig is waar hulle woon en werk, maar seker maak dat hulle gereeld nog die Laeveld besoek.
Dit neem per slot van sake baie jare vir goeie vriendskappe om te taan en Laevelders is immers bekend daarvoor dat hulle blywende vriendskappe smee – sterk vasgegom, soos die Namibsand op Amanda se skilderye.
LEES OOK: Twee van Witrivier Stoeiklub gekies vir die Pumas-span
