Local newsNews

Terugblik op jare in die Onderberg

"My eerste dogter is in 1997 gebore. Daar het ek uitgevind wat ware liefde is. Sedertdien en elke dag is my lewe en my werk vir my twee dogters"

MALALANE – Abraham Minnaar van Veijeren is gebore in Desember 1967 in Tzaneen. Hy is die jongste van vier kinders gebore uit die huwelik van Viegs en Marie van Veijeren, wat jare in die Onderberg geboer het.


Sy kinderjare was tipies dié van ‘n gewone plaasseun. Van vroeg af al moes hy help in die boorde en tabaklande, beheer hou oor die werkers en oesinsameling, en verantwoordelikheid aanvaar.
Op agt jaar kon hy al trekker bestuur en die boorde spuit. Lang harde dae onthou hy, met net ‘n breek vir ontbyt en middagete.

LEES OOK: waarmee-hou-een-van-ons-bekende-oud-sapd-lede-hom-deesdae-besig

Van Veijeren was op Tzaneen in die laerskoolkoshuis. Rugby was sy kos en hy onthou die gewone koshuisstoutigheid en gevolglike pak slae. Veral vir dié wat nog wakker was na die slaapklok gelui het.


“Die beste herinneringe van my skooldae in Tzaneen is dat ek vleuel gespeel het vir die tweede span. Daardie jare moes die vleuels die bal in die lynstaan ingooi. Die hakers was seker te klein om die lynstaan te bereik met die bal. Eendag in ‘n wedstryd besluit die afrigter om my te skuif van flank af vleuel toe. Toe ek die eerste keer die bal moes ingooi in die lynstaan skreeu ek hard ‘voorries die bal kom, hak!’ Al twee spanne het so hard gelag dat die bal agter die lynstaan op die grond geval het. Die skeidsregter wat die fluitjie moes blaas kon dit nie regkry nie want hy het self te veel gelag, toe skree hy maar ‘Stop, stop!’.”


Daarna was hy twee jaar in Hoërskool Ben Vorster en toe sy ouers in sy st. 7-jaar (gr. 9) in die Onderberg kom boer het, is hy Hoërskool Nelspruit toe. “My skoolloopbaan is hier voortgesit met jeug en jonkwees, baie sport en nog meer sports.”


Hy matrikuleer in 1985 en doen sy diensplig by die Artillerieskool op Potchefstroom. “Die weermag het ontsettend baie beteken in terme van ontwikkeling en uitdagings. Na ek die junior leierskursus voltooi het is ons Bloemfontein toe met die doel om saam met 140 mm mortiere valskerm te gaan spring agter die vyandige lyne. Ek het my tweede jaar in F-kompanie in valskermbateljon voltooi en geleer van menswees, vasbyt, mislukking, opstaan en natuurlik baie wonderlike komraderie.


“Na weermag het ek ‘n B.Sc. Agric op Tuks gaan swot. Vir ‘n plaaskind was dit al te lekker in die stad. Daar is meer gefokus op jol as op swot. Ek was in Boekenhout-manskoshuis en dit was sonder twyfel die beste jare van my lewe tot dusver. Die bestes lê mos altyd voor.”


In 1992 het Abraham eers gaan werk as as staatsdiensekonoom in Pretoria. Die volgende jaar is hy getroud. Daarna het hy voltyds gaan boer.

“My eerste dogter is in 1997 gebore. Toe het ek uitgevind wat werklike liefde is. Nie verlief, of hou van, of selfs ons twee vir altyd nie. Maar ‘n onmiddellike gevoel van niks kan ooit weer belangriker wees as die mensie se veiligheid, sekuriteit en sorg nie. Sedertdien en elke dag is my lewe en my werk vir my dogters”.

 

“Van die Nkomazi-tolhek af tot in Malalane was daardie jare feitlik net sitrus aangeplant. In Augustus en September het die hele gebied soos sitrusbloeisels geruik. Dit was ‘n skoon gebied met min rietbrande, baie blommetjies en natuurlik orals oranje vrugte in wintertyd. In elk geval, ek dwaal af; ons boerdery was in die moeilikheid en ons moes plan maak. Die plan was dat ek bank toe gaan met my voorlegging en die plaas koop. Sedertdien het ek verder alleen geboer. Ek het van 2000 tot 2003 ook my magister in bedryfsleiding deur Unisa gedoen.

 

“So het gewasse gekom en gegaan. Daar was vir jare ‘n groot koejawelsapfabriek hier op die plaas. Dit was later ook die kommando se hoofkwartier. Honderde hektare het onder koejawels gestaan en die koejawelboere het duur Mercedesse gery. Piesangs het gevolg en in die tagtigs was Malalane baie bekend vir sy piesangfeeste. Dit is gehou langs die Malelane Laerskool net voor ‘n mens onder deur die brug gaan. Almal plant en praat deesdae net macadamias. Na die riet sal die macadamiaboere weer die dorp laat oplewe.”


Die Van Veijerens was ook bedrywig in georganiseerde landbou.

 “Die boerevereniging was natuurlik die spil waarom so ‘n landboudorpie gedraai het.” Oud-voorsitters van die Onderberg was Jacob de Villiers, wat later gedien het as minister van landbou. Abraham se oom Charles van Veijeren was die voorsitter van Laeveld Tabakkoöperasie en het die koöperasie soos ons hom steeds ken, begin. Hy het nasionaal bydraes gelewer en het ook op die nasionale bemarkingsraad gedien. “Ek was baie jare voorsitter van Malalane en ons was so 25 tot 30 lede wat drie maal per jaar bymekaar gekom het. Ek het later vier termyne gedien as visepresident van Mpumalanga Landbou en verteenwoordiger van die AGRISA.”

 

Abraham glo die goue jare van die suikerbedryf is aan die uitloop. Sy meisiekinders wil ook nie kom boer nie en hy beoog om maar stelselmatig uit die lanboubedryf te beweeg en hom meer toe te spits op ander besigheid.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button