Hi-Tech sekuriteitswag verskyn in hof oor beweerde aanranding
MacPherson het gesê dat die persoon wat beweer dat hy die slagoffer is, met 'n mes gewapen was, volgens Du Plessis se verklaring.

MBOMBELA – Een van Hi-Tech Sekuriteit se wagte, Martin du Plessis, staan tereg op aanklagte van aanranding teen ‘n karwag in die Nelspruit Landdroshof.
Ernst Myburgh (37) beweer dat Du Plessis hom verlede Woensdagaand te lyf gegaan het. Volgens Myburgh het hy na werk besef dat ‘n persoon wat aan hom bekend is, hom agtervolg het. Hy het die beweerde agtervolger genoem as ene Jacques.
“Hy het my agtervolg tot by Chippo’s op die hoek van Ferreira- en Van der Merwestrate.”

LEES OOK: Wat is hoogverraad?
Die karwag beweer dat Jacques ‘n mes uitgepluk het, waarskynlik om hom aan te rand.
“Tydens die daaropvolgende struweling tussen ons het ek die kombuismes by hom afgeneem.”
Intussen het iemand vir Hi-Tech ontbied. Na hul verskyning op die toneel het Jacques homself uit die voete gemaak. Volgens Myburgh het Du Plessis ‘n stuk vervoerband te voorskyn gebring en hom daarmee aangerand.

LEES OOK: GALLERY: Laerskool Laeveld se graad-eentjies klok in
“Toe ons daar aankom, het hy my probeer wurg en aangehou om my aan te rand,” voer Myburgh aan.
Hy het ‘n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer, geopen. Hy het ‘n aantal beserings aan sy gesig, bolyf, arm en rug opgedoen.

LEES OOK: Rugby-grootkop ontken skuld na seksuele oortreding
Die Nelspruit-polisie se woordvoerder, kapt. Zandile Gqawa, het bevestig dat Du Plessis Woensdag in die Nelspruit Landdroshof verskyn het.
Callum MacPherson van Hi-Tech Sekuriteit het bevestig dat Du Plessis in hulle diens is en dat hy die betrokke aand ‘n
oproep van ‘n kliënt geantwoord het. MacPherson het gesê dat die persoon wat beweer dat hy die slagoffer is, met ‘n
mes gewapen was, volgens Du Plessis se verklaring.
LEES OOK: KYK: NHS het gees. Het jy?
“Hy het aggressief teenoor Du Plessis, die kliënt se personeel en die kliënt self opgetree.”
MacPherson het afgesluit dat dit nie buitengewoon is vir verdagtes en oortreders om sake teen sekuriteitswerknemers te open tydens die uitvoering van hul pligte nie.
“Dit bly by die hof om te bepaal of daar wesenlike bewyse bestaan om hierdie eise te staaf,” het hy gesê.
