Local newsNews

Saai sê hul sê op VK-trofeejagverbod

Die wildboerderybedryf dra nie net tot die beskerming van die natuur by nie, maar lewer ook ’n beduidende bydrae tot die ekonomie in die vorm van toerisme en die skep van werkgeleenthede.

Saai, ’n organisasie wat die belange van familieboere beskerm, wat dus wildboere insluit, het onlangs kommentaar ingedien op die VK-regering se konsultasie of die in- en uitvoer van jagtrofeë na en van die VK verbied moet word.

Die oproep tot konsultasie om menings, getuienis en motivering deur kenners in te win, is aangekondig deur Zac Goldsmith, minister vir internasionale omgewingsake.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, het gesê dat oorbenutting en die onvanpaste bestuur van jagaktiwiteite as die grootste redes tot kommer voorgehou word. “Want volgens die VK se departement vir omgewingsake, voedsel en landelike sake (Defra) is hierdie die belangrikste aspekte wat tot die uitwissing van spesies en verlies aan biodiversiteit lei.”

LEES OOK: NHS stel die nuwe lede van hul personeelkorps bekend

Hy het bygevoeg dat die wettige en volhoubare aanwending van die natuur, asook wettige handel in jagtrofeë, grootliks tot die herstel van kwynende spesiepopulasies bygedra het.

“Dit het selfs diere soos die bontebok, die bastergemsbok en die swartwitpens van uitwissing gered.

“Ons is daarvan bewus dat Suid-Afrika in dié debat as ’n treffende voorbeeld voorgehou word om teenkanting vir trofeejag te werf. Die feite en navorsing wat teen ons wildboerderybedryf gebruik word, is swak en ons glo dat wildboere en hul verteenwoordigers die geleentheid gegun moet word om hul kant van die argument te lug voordat ’n besluit geneem word,” het Rossouw bygevoeg.

Met inagneming van Defra se verklaring – dat beleidskeuses ten opsigte van trofeejag in die toekoms bespreek moet word – het Saai ’n vergadering met Defra versoek om ’n voorlegging te lewer oor die wildboerderybedryf in Suid-Afrika in samewerking met netwerkvennote van regoor die bedryf.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Lande Willemse

Landé Willemse is a multiple-award-winning journalist and editor with more than two decades of experience across print, digital, and broadcast media. Her work, which includes photography, spans investigative reporting, sport, agriculture, tourism, political and community news, with bylines across several respected South African publications.
Back to top button