News

Malan-broers geseënd met kriekettalent, én liefdevolle ouers

Pieter, André en Janneman is met talent gebore; ma en pa het hulle net geleer hoe om dit te gebruik.

MBOMBELA – Grootword was pret vir die drie Malan broers. En dié pret was sport. Pieter (30), André (28) en Janneman (23) is al drie in Nelspruit gebore.

Al drie is ook professionele krieketspelers: Pieter en Janneman het beide al vir die Proteas gespeel.

Die seuns was trotse Laerskool Bergland-leerders, en het al drie, vandat hulle oud genoeg was om op skoolvlak deel te neem, op die rugbyveld, krieketveld, tennisbaan en atletiekveld uitgeblink.

Pieter, Janneman, Johan en André Malan – Nelspruit 2001. Foto: Verskaf

Pieter was vir drie jaar en André vir een jaar in Hoërskool Nelspruit voor die gesin in 2007 na Pretoria verhuis het.

Maar waar kom hul sporttalent vandaan?

Ma Tessa en pa Johan het aan Laevelder gesê beide hul gesinne was sportief. “Albei oupas was goeie rugbyspelers, maar die Goeie Vader het ons drie kinders geseën met hul talente,” sê Tessa.

Pieter was van gr. 9 en André van gr. 11 af in Hoërskool Waterkloof. Janneman was ‘n leerling by Laerskool Constantiapark, en daarna ook ‘n Klofie.

Die seuns het in ander sportsoorte uitgeblink maar dit was op die krieketveld waar hulle naam gemaak het.

Pieter, Janneman and André in hul swembad – Nelspruit 2004. Foto: verskaf

“Ons het in April 2007 besluit om na Pretoria te verhuis omdat Pieter en André toe al vir ‘n jaar in Waterkloof was. Die seuns was baie opgewonde omdat hulle gesien het dat as jy in Pretoria tweede kolf, kan jy ook 100 lopies kry.

“Dit was na aanleiding van ‘n wedstryd waarin Pieter vir Waterkloof teen Menlopark gespeel het. Laasgenoemde het eerste gekolf en Rassie van der Dussen het ‘n 100 gekry. Toe Waterkloof tweede kolf het Pieter ook ‘n 100 gekry. Die aantal wat Bergland gejaag het, was dikwels minder as 100,” het Tessa gesê.

ALSO READ: Barberton High School’s athletes give it a fair go at the interhouse athletics

Dié kriekettalent is in Mbombela gekweek.

“Ons was bevoorreg om vanaf 1988 tot 2007 in Nelspruit te woon en ons huis in Suiderkruisstraat het gegrens aan die veld,” vertel Johan.

“Op die erf was daar ‘n krieketnet met ligte en selfs ‘n mini-rugbyveld met pale. Die seuns het meestal krieket gespeel en selfs in die swembad is die muur gebruik om vangskote te oefen.

“Al drie seuns was maar net baie lief vir sport en is geseën met goeie hand-oog-koördinasie en ‘n begeerte om te presteer. Ons as ouers het daardie liefde vir sport met hulle gedeel en was meestal beskikbaar om hulle te ondersteun sonder om in te meng.

“Ons het nie flipvlakke gemaak as hulle 100-talle slaan nie en ook nie ons polse afgekou as hulle vir ‘n duck moes stap nie. Ek dink die bottom line is dat hulle belangrik genoeg gevoel het dat ons baie tyd en aandag aan hulle spandeer het, en Pretoria toe getrek het om vir hulle beter geleenthede te gee om hul sport tot op die hoogste vlak moontlik te neem.

“My wens was dat ons seuns moet geniet wat hulle doen en verantwoordelikheid aanvaar vir hul eie dade en nooit die blame game mag speel nie.”

Pieter Malan. Photo: Samuel Shivambu/BackpagePix

Johan en Tessa het nie ‘n wedstryd misgeloop nie en het hul seuns onvoorwaardelik ondersteun.

“Ek was die kameraman by die meeste van die seuns se sportgeleenthede en Tessa het telling gehou,” sê Johan.

“Ons het vandag nog meer as 600 ure se videos van die seuns se sport en familieaktiwiteite. Hulle het hul eie highlights saamgestel wat hul beste houe en boulwerk saamgevat het.

“Die voordeel was dat hulle van kleintyd al weer kon kyk na ‘n wedstryd en self kon sien wat werk of werk nie.”

Hulle het ook al drie goeie tennis gespeel, wat die belangrikheid van goeie voetwerk beklemtoon het.

Pieter het onlangs die Proteas se kolfbeurte geopen in the laaste drie toetswedstryde teen Engeland. Hy is aan die Cape Cobras en Westelike Provinsie uitgekrontrakteer.

André speel vir die Westelike Provinsie en het ook in Desember ‘n wedstryd vir die Cape Cobras gespeel.

Janneman het in Febuarie 2019 twee T20-westryde vir die Proteas teen Pakistan gespeel. Hy is vir die Suid-Afrikanse eendagspan vir die drie-wedstrydreeks teen Engeland gekies. Hy speel ook sy provinsiale krieket op Nuweland, en Mzanzi Superliga vir Cape Town Blitz.

André Malan. Photo: Muzi Ntombela/BackpagePix

André het ‘n honneursgraad in bedryfsielkunde en Janneman ‘n BCom-bemarking (toerismebestuur) van Pukke. Pieter het direk na matriek ‘n kontrak by die Titans gekry.

Twee van die broers is ook met Nelspruiters getrou, Pieter met Seugnet en André met Elzane.

Pieter, André en Janneman is gebore met talent; ma en pa het hulle net geleer hoe om dit te gebruik.

Tessa vertel: “Johan was altyd daar om met hulle te speel. Hy het geen druk geplaas of eintlik eens afgerig nie, net altyd geleenthede geskep om te kan speel om so hulle passie te kweek.”

Johan voeg by: “Die bottom line van die lewe is aanvaarding of verwerping. Ons het nog altyd ‘n lewe van leef en laat leef gelewe, en deur ons, as ouers, se belangstelling in alle omstandighede gewys dat ons, ons kinders aanvaar ten spyte van al hul en ons eie gebrekke.”

Janneman Malan. Photo: Ryan Wilkisky/BackpagePix

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

markkinnear

Mark Kinnear is based in Mbombela and has 33 years’ experience in journalism, mainly on the sports beat. He has made his career in community media and has extreme passion for covering a wide variety of sports events.
Back to top button