CrimeNews

Sabie-egpaar saam in hospitaal na aanval

'n Verjaarsdag partytjie vir hulle 28-jarige gestremde dogter het Donderdagaand vir die Stoltz-gesin dramaties geëindig toe hulle in hulle huis in Sabie aangeval is.

Rudi Stolz (58), het in die aanval verskeie ernstige beserings opgedoen. Hy is aanvanklik in die intensiewe-sorg eenheid van Nelspruit Mediclinic behandel.

Volgens Raymond Gouws, koördineerder van die gemeenskapspolisieringforum (GPF) is Sabie, is die gesin kort na 20:00 deur drie boosdoeners in hulle huis in Hofmeyersingel aangeval.

“Die gesin se hond het kwaai begin blaf en Rudi is buite toe om ondersoek in te stel. Met sy terugkeer na die huis is hy deur drie gewapende mans aangeval,” sê Gouws.

Die bloedbesmeerde vloere en mure in die huis was na die aanval die stille getuienis van die gewelddadigheid en wreedheid waarmee die rowers toegeslaan het. Stoltz is erg aangerand en het onder meer skedelbreuk opgedoen. Hy het ook verskeie frakture, waaronder sy heup, opgedoen.

Die rowers het geld en wapens by die gesin gesoek.

In ‘n stadium is sy vrou, Adri (50), ook aangerand. Sy is met ‘n vuurwapen oor die kop geslaan en het hoofbeserings opgedoen. Haar hand en arm is ook beseer toe sy skynbaar probeer keer het toe die rower haar oor die kop slaan.

LEES OOK: Geen keer aan tannie Brass se feesviering nie

Die dogter (wie se naam op versoek weerhou word) is ongedeerd. Die aanvallers is nog op vrye voet.

Die Stoltz-egpaar het beide noodoperasies ondergaan. Hulle is tans saam in ‘n kamer in die ortopediese saal van Mediclinic.

Robyn Baard, woordvoerder van die hospitaal, sê beide se toestand is bestendig. Mnr. Stoltz het gesê hy is tans in te veel pyn en sal eers later met die media oor die voorval praat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button