Skukuza se ‘uitsoek-engel’ verloor haar stryd met kanker
Sy het keer op keer bewys dat 'n mens met 'n positiewe ingesteldheid die negatiewe kan oorwin.

SKUKUZA – In 2010 het haar onkoloog haar vyf jaar gegee om te leef.
“Tydens haar behandelings het ek baie keer gedink dit is die einde, maar sy het keer op keer bewys dat ‘n mens met ‘n positiewe ingesteldheid die negatiewe kan oorwin.”
So vertel oom Oubaas Coetzer, haar man en ‘n oud-polisiebeampte, wat onlangs sy vrou, Sarlette meer as 10 jaar nadat sy met kanker gediagnoseer is, aan die dood moes afstaan.
LEES OOK: Vriendelike Oubaas vestig in Pumaland
“Die aanvanklike nuus was verpletterend. Ons kon nie glo wat ons hoor nie. Die dokter moes dit herhaal voordat dit ingesink het. Dit het nie sin gemaak nie, want Sarlette was in daardie stadium besonder fiks. Sy was in beheer van die gimnasium in Skukuza en was ‘n aerobiese instrukteur. Dit was bitter swaar om die werkliheid te aanvaar, maar sy was ‘n vegter.”
Sarlette was ‘n jarelange inwoner van Skukuza. Haar man, oom Oubie soos hy bekendstaan, onthou nog die meisie met sulke maer beentjies en haar rok wat myle te groot was vir haar.
“Nie juis iets vir die oog nie,” vertel hy. “Ek het so gesit en kyk en gedink daardie rok gaan haar tot matriek hou. Sy was haar hele hoërskoolloopbaan by Rob Ferreira in Witrivier in die koshuis en het net naweke en vakansies Hazyview toe gegaan waar sy gebly het. Dit was juis oor een van die naweke wat ek haar toevallig later weer raakgeloop het.”
Oubaas is een van drie konstabels wat na opleiding in November 1974 in Hazyview geplaas is.
LEES OOK: Geen keer aan tannie Brass se feesviering nie
“Daar het al drie van ons haar pa, oom Jan Eksteen, ontmoet wat in die buitewyke van die dorp op ‘n plot gewoon het. Hy was ‘n baie vriendelike omie en ons het so dan en wan lekker by hom gekuier. Hy kon lekker stories vertel. Ek was onbewus dat dit Sarlette se pa was. Toe ons een Vrydag toevallig by oom Jan in die sitkamer gesit en gesels het, het daar hierdie beautiful girl by die deur ingestap. Ek het eers nie besef dat dit sy was nie. Die maer-been dogtertjie het intussen in die mooiste swaan verander. Ek kon nie glo dit was Sarlette nie. Na ‘n bietjie wedywering tussen ons drie, wat ‘n maand of drie geduur het, was ek die een wat haar hart gewen,” onthou hy.
Sarlette het op 24 Desember 1977 ‘n Coetzer geword. In 2010 is sy met ‘n seldsame kanker gediagnoseer.
“Haar onkoloog het met haar diagnose voorspel dat as dit goed gaan, sy net ongeveer vyf jaar oor het om te leef. Sy het daar ‘n besluit geneem dat met haar sterk Christelike oortuigings, sy die geveg teen kanker gaan begin. Sy was in ‘n stadium op dialise en het self besluit om dit te staak. Sy wou nie met pype in haar liggaam saamleef nie. Sy het toe reeds geweet dat die besluit die einde van haar lewe sou beteken. Sy was oortuig dat dit nie sou gebeur nie, maar het egter met slegs 9 %- nierfunksie sonder dialise geleef. Mense het haar bewonder, oor die aardige besluit. Dit was weer eens ‘n bewys van haar sterk wilskrag om deur die genade van die Here so te kon leef. Sy het mense orals om haar aangeraak, want daar was iets wat sy van haarself gegee het. Uiterlik sou mense haar nie met kanker vereenselwig nie. Sy was baie netjies op haarself en sprankelend, al het sy soms baie swaar getrek,” het Oubaas vertel.
“Dit is die manier waarop sy dit hanteer het wat baie mense in soortgelyke situasies nuwe hoop gegee het. Sy het by Cansa, kerke, hospitale en ouetehuise persoonlike getuienis gelewer en op só wyse baie mense – siek en gesond – aangeraak en nuwe hoop gegee.
“Ondanks haar stryd, het sy vir haar gesin en familie gelewe. Sy was die een wat almal bymekaar gehou het. Om haar lewe op te som en die beste herinneringe uit te soek is moeilik. Alles, behalwe haar lyding, was asof ons met ‘n uitsoek-engel van die Here saamgeleef het. Sy was in my oë die perfekte mens en ek het nog nie haar gelyke raakgeloop nie.
“Wat ‘n wonderlike voorreg was dit nie om alles en nog baie meer in ‘n vrou te kon gehad nie. Dit was ook vir my ‘n voorreg om haar te kon bystaan in haar siekte. Deur dit alles het sy ook my lewe aangeraak en my verander in iemand wat so leef dat negatiwiteit nie deel is van my bestaan is nie,” het hy gesê.
Sarlette is Vrydag te ruste gelê, en laat haar twee seuns, Abrie en Juan, en twee kleinkinders, Geni en Leo, agter.
