Local newsNews

Die einde van ‘n era vir vriendelike Fanie by Hoërskool Nelspruit

Verlede Maandag het Fanie Themba vir die laaste keer Hoërskool Nelspruit (NHS) se deure gesluit. 

MBOMBELA – Vir 36 jaar was dit een van die take wat hy altyd pligsgetrou uitgevoer het, maar nou het die tyd aangebreek vir hom om af te tree.

“Ek gaan nou eers ’n bietjie rus, maar nie vir lank nie. Ek beplan nie om stil te sit nie. Ek gaan iets kry om myself besig te hou,” sê hy. Fanie het in 1984 as ‘n algemene assistent by NHS begin werk.

“Ek onthou nie baie van die eerste dag wat ek hier begin werk het nie. Ek onthou net dat hier net ‘n paar geboue was. Ons het saam met mnr. Booyens en die personeel hard gewerk aan verbeteringe op die skoolterrein. Ek onthou dat ons die trappe by die krieketveld gebou het.”

Hy is baie emosioneel as jy hom vra wat hy die meeste gaan mis van NHS. “Ek gaan na almal verlang. Ek wil graag vir almal dankie sê vir die mooi jare wat ons saam gewerk het.” Om die leerders nie meer te sien nie, gaan beslis vir hom ‘n groot leemte laat. Hy sê dat die Saterdag-sportgeleenthede een van vele hoogtepunte vir hom was.

LEES OOK: Leer bestuur op regte toetsbaan

Een van die geleenthede wat hy nooit sal vergeet nie, is die dag wat hy sy troufoto’s voor die seunskoshuis laat neem het. Die pragtige tuine was die agtergrond vir die pasgetroude paartjie.

Sommige personeellede onthou Fanie van toe hulle nog in die skoolbanke gesit het. Theresa de Wet, die skool se ontvangsdame, het vir agt jaar saam met Fanie gewerk.

Sy sê Fanie is ‘n man wat ‘n passie vir sy werk gehad het, van water in die ketel gooi vir koffie vir die personeel tot klaskamers oopsluit, gras sny en vele ander take. Hy was altyd net ‘n oproep ver. “Dit het altyd vir my gevoel of ons twee in kompetisie was om eerste by die skool te wees om die voordeur oop te sluit.”

“Baie dankie vir die jare wat ons twee saam ‘n pad geloop het, Fanie. Baie dankie vir jou bereidwilligheid om altyd te help, vriendelik te wees en my te respekteer. Ek gaan jou oggendgroet mis, maar ek gun jou die rus,” het sy gesê.

Skoolhoof Johan Hattingh het gesê hy het groot waardering vir Fanie se karakter – ‘n eerlike toegewyde werknemer wat ten alle tye die belange van die skool op die hart gedra het.

“Fanie het die konsep van uitnemendheid verstaan en dit is lekker om te getuig dat hy net so trots op die skool is as die res van die personeel. Mooi loop, Fanie, mooi loop.”

LEES OOK: Vermoorde lt.kol. Leroy Bruwer se geliefdes neem finaal afskeid

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button