Gebede vir baba Ayden bring hoop
Na twee maande in die intensiewesorgeenheid het Ayden van Niekerk onlangs sy ogies oopgemaak.

Sy verdowing is stelselmatig verminder sodat hy self kon ontwaak oor die twee maande.
Maar dit is goeie nuus saam met die slegte. Sy ma, Estelle van Niekerk, het Dinsdag bevestig dat sy dokters breinkrimping van tussen 20 % en 25 % gediagnoseer het, wat baie komplikasies met sy ontwikkeling sal inhou.
Duisende mense bid steeds vir sy gesondheid nadat dit bekend geword het dat hy aan ‘n stukkie biltong gestik het. Dokters het intussen aangedui dat dit nie geval was nie volgens sy ma.
Lees ook: Vragmotorkapings neem kommerwekkend toe
Sy gesin is ook verlig dat vog nie tans van die brein gedreineer hoef te word nie, want dit sou nog ‘n operasie beteken. Sy suurstofpyp is sowat drie weke gelede uitgehaal en toé kon sy ma hom vir die eerste keer in 32 dae vashou.
Ayden het op Donderdag 6 Mei verstik en is per helikopter van Lydenburg na die Netcare Garden City in Johannesburg gevlieg, waar hy sedertien in die intensiewesorgeenheid behandeling ontvang het.

“Die dokters sê Ayden se breinlobbe het nie seergekry nie en ook nie die ‘midway stream’ nie. Dit is soos die rekenaar van die brein wat seine na die liggaam uitstuur. Die motoriese funksie is wel aangetas, en daarom sukkel sy ogies nog om te fokus,” het Estelle gesê.
Behalwe die swelling op sy brein het hy ook ‘n long- en bloedinfeksie opgedoen.
Estelle verstaan dat die dokters hulle op die ergste uitkoms voorberei aangaande Ayden se ontwikkeling, maar hulle bly positief.

“Daar is baie dokters daarbuite en tegnologie verbeter elke dag. So ek is positief die kenners sal ‘n program ontwikkel om sy brein te oefen en ons dank die Here daarvoor. Hy koester Ayden teen sy bors, want Jesus is lief vir al sy kindertjies. Asseblief, bid saam met ons elke dag oor ons klein mannetjie dat hy nie sal ophou baklei nie,” was haar versoek.
Dr Miles Bartlett is een van die pediaters wat nie maklik opgee in gekompliseerde gevalle soos Ayden s’n nie. Hy was ook betrokke by die klein vegtertjie Pippie Kruger se mediese geval; sy het op Oujaarsaand 2011 met jelvuuraanstekers brandwonde oor 80% van haar liggaampie opgedoen.
’n Back-a-buddy fonds is gestig deur vriende en familie vir die Van Niekerk-gesin.
