Reuse koolkop geoes
Die Goliat van ’n Novaton-kultivar-koolkop het die skaal op die 16 kg-merk laat kreun.
Dié groot kalant was selfs vir die eienaars van die plaas Haakhoek buite Ohrigstad ’n verrassing. Dewald (42) en sy pa, Jan Els (74), boer reeds bykans 50 jaar op Haakhoek.
Op Saterdag 4 September het Dewald gesien ’n plaaswerker dra effe swaarder as gewoonlik en stoei met wat sy pas opgetel het.
“Toe ek nader staan om te help, het ek ’n reusekoolkop gesien wat selfs groter lyk as die een van 10 kg wat ons al vantevore geoes het. Hierdie is verseker die grootste koolkop wat van ons lande af kom,” het hy gesê.
Of die koolkop ’n rekord is sal nog bepaal moet word. Ander koolkoppe wat ongeveer 13 kg geweeg het, het al pryse gewen op nasionale landbouskoue.

Dewald skryf die sukses van die groot koolkop deels toe aan die wisselbouboerdery wat hulle toepas, die standaard kunsmispraktyke en goeie waterbestuur. Ryp en insekteplae beïnvloed ook die oeste.
Van die groot kopsere vir groenteboere is virusse, swamsiektes, plantluise, bragadakewers, Amerikaanse bolwurm en die diamantrugmot of ruitrugmot, om maar ’n paar te noem.

Dewald het gesê kool is baie aanpasbaar en daarom kan dit ook in Ohrigstad regdeur die jaar met sukses geplant word. Hulle verbou ook saadmielies en -bone vir saadmaatskappye.
Die koolkop gaan aan die Wenakker Sentrum vir Intellektueel Gestremdes geskenk word. Dewald sê Marco van Wijk, wat help met die bestuur, kom elke week vars groente oplaai en die inwoners gaan verseker die koolkop geniet.
Dewald se seuns, Waldo (6) en Marko (4), het vinnig op die tafel geklim toe pa en oupa die koolkop van die landerye inbring vir ’n foto.
Dit was byna net so groot soos die twee jongmanne.

As daar gewonder word hoe groot ‘n 16 kg-koolkop is, vergelyk dit met ‘n bottel tamatiesous.


