Local newsLocal sportNewsNewsSport

Interhoër 2022: Nellies nog eens stewig op die kruin!

Om die jaarlikse atletiekinterhoër op eie bodem te kan wen, het vir NHS se bul van 'n atletiekspan 'n heerlike werklikheid op Saterdag 26 Februarie by die BUCO Laeveld Vriendskaplike Interhoër geword.

Dit het fyn beplanning en vasbyt gekos om, te midde van Covid-beperkings en ook swaar reën die vorige nag, ‘n uiters suksesvolle byeenkoms te kon deurvoer tot die laaste twee items wat waarlik die kroon gespan het: die 4×100 m aflos vir seuns en dogters 19, wat op skitterende wyse deur Nellies se snellers ingepalm is.

Daar is allerweë verwag dat vanjaar se stryd tussen NHS, Rob Ferreira en Lydenburg fel sou wees. Dit was dan ook die geval, met Nelspruit se seuns wat harde bene teen die manne van Rob gekou het.

Lerissa Grobler.

Uiteindelik het NHS se groter diepte wat veral velditems betref, die deurslag gegee en hulle wen die seunstrofee met 790 punte teenoor Rob Ferreira se 681 en Lydenburg se 602.

Nellies se dogters het weer eens getoon dat hulle een van die sterkste spanne in die land is, toe hulle die trofee met meer as 200 punte voor hul naaste teenstanders verower het. NHS se totaal van 854 (teenoor Lydenburg se 645 en Rob Ferriera se 615) vertel die hele verhaal.

Die trofee vir die wenspan vir 2022 (algeheel) gaan dan vanjaar, vir die 57ste agtereenvolgende keer, aan Hoërskool Nelspruit (1 644), met Rob Ferreira (1 296) as naaswenners en Lydenburg (1 247) in die derde plek.

Ethan van der Westhuizen.

Barberton het beïndruk met die wyse waarop hulle enduit geveg het, en kan baie tevrede wees met ‘n stewige vierde plek (780), voor Lowveld High (708), Bergvlam (683) en Penryn College (505).

Die verminderde getal toeskouers op die paviljoen het natuurlik ‘n reusetaak gehad om hul spanne deur die dag te dra en met hulle sang, drag en gedrag, ook daar die beste voet teen die ander deelnemende skole, voor te sit.

NHS kan tereg baie trots wees op sy energieke, hardwerkende en dinamiese dirigente en hul “span agter die skerms” wat nooit die pas verslap het nie. Uiteindelik is hulle dan ook as beste dirigentespan van die dag aangewys, met Bergvlam se dirigente in die tweede en Lydenburg s’n in die derde plek.

Juané le Roux.

Nelspruit kry ook die toekenning vir beste opkoms, en Stefan Veldsman word bekroon as beste NHS-dirigent van die byeenkoms. In die afdeling vir kreatiewe liedjie was Bergvlam die wenner, met NHS tweede en Barberton ‘n gewilde derde plek.

Jaarliks word die beste atlete (junior en senior, seuns en dogters) met die gesogte victrix en victor ludorum toekennings vereer. Hierdie prestige-toekennings word oorhandig aan die atleet wat in sy/haar beste drie items die meeste ASA-punte ingesamel het. Nellies is vanjaar bevoorreg om al vier hierdie trofees te kon wen.

Baie geluk aan Simoné Lourens (junior victrix), Vaughn van Zyl (junior victor), Ashley Erasmus (senior victrix) en Handré van der Merwe (senior victor).

Kristen Berry.

‘n Spesiale trofee word jaarliks ook aan dié seun en dogter wat die beste prestasie van die dag behaal het, oorhandig. Onder die manne was Vaughn van Zyl in ‘n klas van sy eie toe hy die skyfwerp vir seuns 15 met ‘n uitstekende gooi van 56,35 m (915 ASA-punte) ingepalm het.

Wat kan nog oor die fenomenale Ashley Erasmus gesê en geskryf word? Ashley het vroeër vanjaar Zonnika Lindeque se SA rekord in gewigstoot d. 17 (18,18 m) na ‘n wêreldklas-18,65 m verbeter en almal was gaande oor daardie ongelooflike prestasie, veral omdat dit ook ‘n Afrika- en Statebondrekord was.

Tiaan de Beer.

Wel, Ashley het haar allerbeste vir haar tuisveld en tuisgemeenskap gebêre. Saterdag trek sy los met ‘n magtige en kragtige stoot van 19,05 m – wat wéér alle rekords oortref die beste afstand vanjaar deur enige atleet in enige land ter wêreld, en dit in die Laeveld, voor haar tuisskare.

LEES OOK: Nuwe laag verf lig gemoedere by Herfsakker

Wat ‘n voorreg! Hiermee het sy die maksimum van 1 000 punte verwerf. Net om doodseker te maak dat sy die gesogte trofee huis toe neem, het Ashley ook in skyfwerp (49,41 m, ‘n nuwe persoonlike beste en Nellie-rekord vir haar) ‘n voltal van 1 000 aangeteken.

Karien Goosen.

Hierdie innemende, beskeie en rolmodel van ‘n atleet verdien al die eer wat sy reeds ontvang het, en wat nog op haar wag.

Die seun en dogter wat in elke item/afdeling die beste prestasie (volgens ASA-tabel) gelewer het, is ook met ‘n toekenning beloon.

NB: Kian Mouton.
NB: Marco Capazorio.
Lerissa Grobler.
Kristen Berry.
Shanese de Clerck.
Marco Capazorio.
Arili Boshoff.
Karien Goosen, Zané Potgieter, Rhode Nel, Larise Combrink en Lerissa Grobler. >Foto’s HH Photography and Design
Lana Botha.
Philip Vogel.
Zané Potgieter.

Die volgende Nellies het hierdie groot prestasie vermag:

• Naellope: Zoë Cilliers (d. 14) – 100 m
• Middelafstande: Sheba Sithole (d. 15) – 800 m
• Kort hekkies: Simoné Lourens (d. 14) – 90 m-hekkies
• Lang hekkies: Zané Potgieter (d. 19) – 400 m-hekkies; Handré van der Merwe (s. 19): 400 m-hekkies
• Driesprong: Shanese de Clerck (d. 17)
• Verspring: Shanese de Clerck (d. 17); Marko Matthee (s. 16)
• Hoogspring: Shanese de Clerck (d. 17)
• Gewigstoot: Ashley Erasmus (d. 17): Vaughn van Zyl (s. 15)
• Skyfwerp: Ashley Erasmus (d. 17); Vaughn van Zyl (s. 15)
• Spiesgooi: Jolanke van Zyl (d. 19).

Die hoë standaard van afrigting, fiksheid en wilskrag wat NHS se atlete deurentyd gewys het, word duidelik gesien in die groot medalje-oes. Wat verder opvallend is, is dat talle atlete ‘n goue drie- of tweekuns behaal het.

Dit wil gedoen wees. Maar een baie besonderse dame, wat vir seker haar naam voor dié van al die baie uitblinkers verdien (wat medaljes betref), is Zané Potgieter. Hierdie spogatleet het in al die wedlope waaraan sy deelgeneem het, vier individueel en een aflos, goud losgehardloop.

Zané (d. 19) wen die 100 m in 12,73 sek. (768); 200 m in 26,61 sek. (773); 400 m in 62,03 sek. (766); en die 400 m-hekkies in 67,42 sek. (823).

In die laaste item van die dag verower sy goud nommer 4 toe sy die in laaste been van die 4×100 m-aflos onder die res uitgenael het om eerste verby die wenstreep te blits. Vyf goues wat ‘n pragprestasie om in jou matriekjaar te behaal!

NHS se “trippeldoor”-kampioene (drie goue medaljes elk):

• Ashley Erasmus (d. 17): gewigstoot – 19,05 m (1 000); skyfwerp – 49,41 m (1 000); spiesgooi – 37,22 m (762)
• Hayley Cussons (d. 15): 3 000 m d. 19 – 11:38.24 (779); 800 m d. 16 – 2:34.32; 1 500 m d. 16 (5:29.06)
• Shanese de Clerck (d. 17): hoogspring – 1,7 m (850); verspring – 5,6 m (784); driesprong – 11,27 m
• Simoné Lourens (d. 14): 90 m-hekkies – 14,77 sek. (825): 300 m-hekkies – 48,17 sek. (822); 400 m – 62,13 sek. (798)
• Kristen Berry (d. 17): 800 m – 2:24.38 (785); 1 500 m – 5:15,00; 400 m – 63,34 sek. (757)
• Kian Mouton (d. 17): 3 000 m – 9:57.62 (743): 800 m – 2:02.37; 1 500 m – 4:31.56.

Die lys van atlete wat ‘n goue tweekuns behaal het, is ewe indrukwekkend:

• Juané le Roux (d. 15): gewigstoot – 11,18 m (809); skyfwerp – 31,09 m (787)
• La-Alizia Venter (d. 19): gewigstoot – 11,67 m (849); skyfwerp – 32 m (745)
• Sheba Sithole (d. 15): 800 m – 2:23.75 (805); 1 500 m – 5:10.11 (722)
• Zoë Cilliers (d. 14): 100 m – 12,74 sek. (828); 200 m – 26,9 sek. (812)
• Christine Venter (d. 16): gewigstoot – 11,96 m (829): skyfwerp – 30,98 m (769)
• Zané Nel (d. 14): gewigstoot – 12,45 m (876); skyfwerp – 31,84 m (816)
• Vaughn van Zyl (s. 15): gewigstoot – 15,48 m (860); skyfwerp – 56,35 m (915)
• Vian Louw (s. 14): gewigstoot – 13,49 m (774); skyfwerp – 38,36 m
• Joshua Fincham (s. 15): 800 m – 2:11.50; 1 500 m – 4:40.53
• Nathan Duncan (s. 16): 800 m – 2:03.45; 1 500 m – 4:35.91
• Marno du Plessis (s. 16): 100 m – 11,23 sek. (748); 200 m – 22,65 sek. (776)
• Cherike Boshoff (m. 16): 100 m – 13,32 sek. (732); 200 m – 27,04 sek. (780)

.

Nog NHS-atlete wat 2022-interhoërkampioene is:

• Violet Taljard (d. 15): spiesgooi – 34,39 m (735)
• Marné van der Merwe (d. 16): 400 m-hekkies – 74,9 sek. (740)
• Levandi Hough (d. 14): verspring – 4,86 m
• Arili Boshoff (d. 17): 100 m – 13,17 sek. (737)
• Menique van Zyl (d. 14): 800 m – 2:31.62 (746)
• Rojandi Coetzee (d. 14): hoogspring – 1,58 m (800)
• Lallie Grobler (d. 19): 100 m-hekkies – 16,7 sek. (724)
• Helene Barnard (d. 16): spiesgooi – 27,34 m
• Kaycee Fincham (d. 14): 1 500 m – 5:26.09
• Simoné Froneman (d. 16): 100 m-hekkies – 17,67 sek.
• Jolanke van Zyl (d. 19): spiesgooi – 38,33 m (780)
• Zoë Scheepers (d. 15): hoogspring – 1,4 m
• Lana Botha (d. 15): 400 m – 64,33 sek. (756)
• Zané du Toit (d. 16): 400 m – 64,06 sek. (740)
• Handré van der Merwe (s. 19): 400 m-hekkies – 53,49 sek. (912, rekord)
• Ruben Lorist (s. 17): skyfwerp – 41,64 m (748)
• Monkwe Kamagelo (s. 14): verspring – 5,53 m
• André Potgieter (s. 19): 100 m – 10,91 sek. (756)
• Marco Capazorio (s. 19): 110 m-hekkies – 15,15 sek. (795)
• Ruben Vorster (s. 17): 110 m-hekkies – 15,03 sek. (790)
• Ryan Venter (s. 17): gewigstoot – 14,99 m (814)
• Liam Doncaster (s. 14): 1 500 m – 4:48.58
• Marko Matthee (s. 16): verspring – 6,58 m (836)
• Ricardo Correia (s. 19): gewigstoot – 13,87 m (762)
• Jacques Bouwer (s. 15): spiesgooi – 48,13 m
• Bradley Claasen (s. 16): gewigstoot – 13,60 m (755)
• Lian Antunes (s. 14): 400 m – 55,02 sek. (721)
• Philip Vogel (s. 19): hoogspring – 1,85 m
• Larise Combrink (d. 19): verspring – 5,26 m
• Andreas Fouché (s. 19): skyfwerp – 38,49 m (750).

Nou is die Nellies volstoom op pad na die Super Interhoër van 2 Maart, waar ‘n nog steiler berg wag om geklim te word, teen Dr. Malan, Klerksdorp, Noordheuwel, Montana, Potch Gim, Randburg en Rustenburg.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button