Voormalige recces kom gesels op Coromandel oor vervloë weermagdae
'n Aandjie opgedra aan die spesiale magte vind op Vrydag 25 Maart by die Yellowwood Venue op Coromandel plaas.
Jack Greef en Callie Roos, twee voormalige recces (‘n verkorting vir die woord reconnaissance) kom in Lydenburg ‘n boeiende gesprek oor hul weermagtyd as spesialemagte-operateurs in Angola en ander lande voer.
Dié geleentheid het dit ten doel om bewustheid van die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte-vereniging (Sasfa), waarvan hulle deel is, te skep. Sasfa is ‘n organisasie sonder winsoogmerk vir militêre veterane.

“By die geleenthede kry weermagveterane en voormalige spesialemagte-operateurs die kans om weer saam te kuier,” het Roos gesê.
Roos lei die aand in met ’n oorsig en stories oor recces se keuring, oorlewing en opleiding. Greef gaan onder meer gesels oor Operasie Amazon.
Dié operasie se doel was om brandstoftoevoer na die suide van Angola af te sny. Dit het alles gebeur met die vernietiging van die brandstofopgaartenks in die hawe van Lobito.
Lees ook: Hoërskool Lydenburg lewer KNAP VERTONING by interhoër
Eers was daar die verkenning van ’n tweemanspan vanuit ’n duikboot vanaf die kus, gevolg deur die vernietiging van die opgaartenks asook die sementfabriek in die hawe deur kommandospanne van die spesiale magte.
Die storieaand vind op Vrydag 25 Maart by die Yellowwood Venue op Coromandel, tussen Lydenburg en Dullstroom op die R36, plaas.
Die kaartjies sluit ‘n braai-ete in van ‘n biefstuk, boerewors, bykosse en nagereg. Skakel die Hervormde Kerk se kantoor by 072 225 2052, of koop jou kaartjies kontant by PostNet Lydenburg.
