Lydenburg-dam op ’n stewige 105% vol
Dis amper die einde van die reënseisoen, maar die Lydenburg-dam loop steeds oor en is 105% vol.

Dit is volgens die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se weeklikse verslag op die stand van reservoirs op Maandag 28 Februarie.
Hierdie dam is die hooftoevoer as waterbron vir die groter Lydenburg-area. Die opvangsarea is hoër teen die berg, op die Longtompas. DWS het ’n toename van 6,3% in watervolume hierdie maand aangedui.

Die damvlakke van die Lydenburg-dam het vanaf 96,7% tot 101% sedert Januarie gestyg.
Die Kwena-dam op die Badfontein-pad
(R36), onderweg na Machadodorp, se vlak styg steeds en het die 100%-kerf verbygesteek. Boere van die Badfonteindistrik veral slaak ’n sug van verligting, want dit is die eerste keer in vyf jaar wat
die watervlak oor die damwal stroom. Die DWS doen ’n beroep op die publiek om verantwoordelik op te tree en die beskikbare water verstandig te gebruik.
