Local newsNewsNews

Aanvallers steek man in maag

’n Plaaslike fiksheidsinstrukteur se leefstyl het hom dalk net gered na hy deur aanvallers met ’n mes buite sy huis gesteek is.

As dit nie was dat hy so fiks én groter as sy aanvallers was nie, kon hy dalk erger beseer gewees het.  So het Bianca Ferreira dié week ‘n mesaanval op haar man, Jannie, beskryf.

Jannie (39), ‘n voormalige werknemer van Virgin Active wat deesdae mede-eienaar van Reboot Health and Fitness is, en as instrukteur werk, is in die vroeë oggendure van Dinsdag by die egpaar se huis in Percy Fitzpatrickstraat met ‘n mes in die maag gesteek.

“Jannie het my omstreeks 02:00 wakker gemaak en gesê ek moet nie skrik nie, maar hy vermoed daar is iemand in die erf,” sê sy.  Hy is by die agterdeur na buite om ondersoek te gaan instel.

“Ek was op daardie stadium baie bang, en het die deur gesluit, asook die traliehek in die gang wat na ons kamer lei.”  Sy het Divergent Ops geskakel.
Intussen het Jannie na die boos-doeners gaan soek.  “Toe hy om die huis se hoek kom, het twee mans hom aangeval. Hy is met ‘n baksteen teen die kop geslaan.”

LEES OOK: President Kruger en die akkerboom

Hy het die twee aanvallers getakel. Hulle het hom drie keer met ‘n mes probeer raak steek. Hulle kon net daarin slaag om hom een keer aan die regterkant van sy maag, langs sy naeltjie, te wond.

“Hy was heelwat groter as hulle en ten spyte daarvan dat hy gedisoriënteerd was as gevolg van die hou teen sy kop, kon hy die aanvaller met die mes platstoei,” sê Bianca.

Hulle het toe gevlug en oor die tuinmuur gespring. Een van hulle het wéér ‘n baksteen na hom geslinger, maar dit het hom gemis.”  Nadat sy hulp ontbied het, het sy vrou by die geslote agterdeur gestaan en na hom geroep.  “Ek was te bang om na buite te gaan. Ek wou vasstel of hy oukei was.”

Sy het hom hoor aankom en het die deur oopgesluit. Toe hy in die huis kom, het sy bloed aan sy hemp gesien.  Kort daarna het die sekuriteitsmaatskappy en ER24 by die huis opgedaag.

LEES OOK: IN PHOTOS: Laerskool Bergland media centre opening day

Die wond aan sy maag is behandel en hy is na Mediclinic Nelspruit geneem. Hier is sy wond geheg en hy is opgeneem. Dinsdagoggend het hulle gesien sy maag is baie geswel en besluit om hom teater toe te neem.

“Hoewel die wond net ‘n klein snytjie was, wou hulle vasstel of hy enige inwendige beserings opgedoen het. Die dokters was nie seker hoe diep die mes in sy maag ingedruk was nie,” sê Bianca.

Tydens die operasie het die chirurg ‘n kamera gebruik om sy ingewande te bestudeer. Hulle kon egter geen ander beserings opspoor nie.

Hy is Woensdag ontslaan en sterk tans by die huis aan.

Die polisie het bevestig hulle ondersoek ‘n saak van poging tot moord. Nog geen verdagtes is aangekeer nie.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button