Local newsNewsNews

Oorwinning oor dwelms: Vyf mense in rehabilitasie deel hul verhale van hul paaie na herstel

Bread of Life rehabilitasiesentrum, naby die Mac Mac-poele net anderkant Sabie, het aan die begin van Maart sy oorwinningsnaweek gehad. Vyf mense wat in verskillende fases van herstel is, gesels met Laevelder.

Dwelmverslaafdheid is byna ‘n klein pandemie op sy eie wat talle huishoudings regoor die land raak. Die Laeveld alleen het heelwat sentrums wat verslaafdes op hul pad na rehabilitasie help.

Een so ‘n sentrum, Bread of Life, naby die Mac Mac-poele net anderkant Sabie, het van 4 tot 6 Maart sy Victory Weekend gehad, waartydens mense in rehabilitasie hul stories gedeel en oorwinnings gevier het.

Die sentrum se aanslag is op Christelike beginsels gegrondves en bestaan uit daaglikse godsdiens, Bybelstudiegroepe, dwelm- en alkoholrehabilitasie, en groepterapie om lewensvaardighede te kweek.

Steven Maritz en sy ma, Debbie.

Vyf mense wat in verskillende fases van herstel is, deel hul verhale met Laevelder.

Johan Mathee (39), Hannes Havenga (40), Sharnelle Meyer (28), Steven Maritz (19) en Michelle Pieterse (42) vertel wat in hul lewens gebeur het wat hulle tot by Bread of Life se deure gebring het.

LEES OOK: Urgent investigation is launched against Rob Ferreira

Terwyl die klanke van lofprysing en aanbidding as deel van die oorwinningsnaweek se Sondagprogram in die agtergrond speel, kom hulle een na die ander in ‘n andersins stil kamer in vir die onderhoud. Daar word eers vasgestel of hulle gemaklik is om hul identiteite bekend te maak en of hulle eerder ‘n skuilnaam sou verkies.

Hannes Havenga vat dit mooi in sy antwoord saam: “Dit is deel van recovery. Mense moet weet waar jy vandaan kom en waarheen die Here jou gevat het.”

Steven Maritz doen sy kruisloop – swaarkry ter wille daarvan om met ‘n skoon gewete voor God te loop. > Foto: Verskaf

Daar is nie ‘n enkele “resep” vir die groep van ongeveerd 50 mense by hierdie sentrum nie; elkeen se lewe het verskillende afdraaie gevat om hulle tot hier te bring. Een ding is wel seker: elkeen kon al ‘n duidelike verandering sien tussen die persoon wat by die sentrum opgedaag het en die persoon wat hulle nou is.
Johan Mathee het vir 22 jaar van sy lewe dwelms gebruik. In daardie jare het hy kokaïene, kristalmetamfetamien en Mandrax gebruik. Hy sê die kristalmetamfetamien het oorgevat.

LEES OOK: Nelspruit Magistrate’s Court postpones JJ Peters’ case for formal bail application again

“Dit was nag. Ek het besluit om te kom, want my lewe het só erg begin raak dat ek net iets moes doen.”

Hy was agt jaar oud toe sy ouers geskei het, en kort daarna is sy pa tronk toe. Omdat sy ma nie na hulle kon kyk nie weens haar eie dwelmverslawing, is hulle na ‘n kinderhuis toe waar hy vir die eerste keer aan dwelms blootgestel is.

Een van die geestelike ouers, Deon Verwey, doop Steven Maritz. > Foto: Verskaf

Havenga sê weer hy het ‘n “normale lewe” as kind gehad.

Sy stryd het gekom na ‘n reeks van drie gebeure. Sy pa is oorlede, ‘n ruk daarna het sy huwelik tot ‘n einde gekom toe sy seuntjie net nege maande oud was, en sy beste vriend is kort daarna ook oorlede.

Vir hom het dit by drank begin en later het dit oorgegaan na metkatinoon (CAT), toe na kristalmetamfetamien en kokaïene.  Sharnelle Meyer was reeds skoon toe sy by die sentrum aangekom het en is nou ‘n vrywilliger daar.

Dit behels dat sy saam met nuwelinge in ‘n huis bly en as ‘n tipe leier in die huis funksioneer, aangesien sy al ietwat verder op die rehabilitasiepad is.
Sy vertel dat haar verslawing sy oorsprong in rebelsheid gehad het.

Miemie van Jaarsveld, haar seun, Hannes Havenga, en man, Piet van Jaarsveld.

“Ek was van kleins af baie rebels. My jonger suster was baie siek en ek het gedink my ma is liewer vir haar. Ek was stout om aandag te kry.”

Sy sê sy het van die ouderdom van 11 of 12 begin drink. Op 13 het sy begin dagga gebruik, en op 16 aanbeweeg na harder dwelms. Sy was een van dié wat op die naweek haar eerste jaar van soberheid gevier het. Dit is die eerste keer in 12 jaar wat sy vir ‘n jaar lank skoon is.

LEES OOK: Five killed in accident on Schoemanskloof

Die jongste van die vyf, Steven Maritz, sê hy het besef hy moet hulp kry voor sy daggaverslawing in iets erger ontaard.  Hy vertel dat hy op een dag sowat 40 zolle gerook het.

Soos Maritz van sy verslawing vertel, kry ‘n mens die idee dat hy bloot ‘n jong man is wat te veel dagga rook. Later in die gesprek verander die prentjie egter heeltemal.

Miemie van Jaarsveld, haar seun, Hannes Havenga, en man, Piet van Jaarsveld.

Op die jong ouderdom van 19 het hy al reeds vyf keer probeer selfmoord pleeg – die eerste keer was hy maar 10.  Twee maande voor hy gebore is, is sy pa voor sy ma doodgeskiet.

Michelle Pieterse, wat ook die geestelike leier by die sentrum is, sê hulle glo dat wat met hom as ongebore baba gebeur het, hom met ‘n angs en hartseer gelaat het, sonder dat hy rêrig verstaan het waar dit vandaan kom.

Sy het by elke gesprek ingesit en het trane in haar oë gekry toe hy dit vertel. “Hy het die mooiste hart.”

Sy sê daar is hierdie idee by hom dat hy nie man genoeg is nie – hy is baie op skool geboelie. “Maar hy besef nie eers hoeveel meer man hy eintlik is nie.”

Wanneer iemand so lank soos Pieterse nou al by die sentrum is (sedert 2017), en ook ‘n leiersposisie beklee, vergeet ‘n mens soms dat sy ook begin het waar die res nou is. Haar verhaal getuig van die feit dat iemand in rehabilitasie se stryd nooit werklik ophou nie.  Beide haar ouers was volslae alkoholiste en haar pa is oorlede toe sy sewe jaar oud was.

Steven Maritz en sy ma, Debbie.

“Ek het baie alleen grootgeword. As ek bang was het ek met die engele gesels. Hulle het my geleer om macaroni en tameletjie te maak. Hulle het my ook geleer om nie ‘n eier in die mikrogolf te sit nie,” sê sy op ‘n ligter noot.

Sy het op 16 reeds metileendioksimetamfetamien (ecstasy) begin gebruik en vir sewe jaar lank kristalmetamfetamien. Haar hart het een keer gaan staan weens dié middel. Sy wys waar die naald wat haar eintlik moes doodmaak, nog in haar arm sit waar dit afgebreek het.

Ná daardie ervaring, sê sy, het die Here haar hierheen gelei. Die mense by die sentrum is haar lewe en familie; sy het tot vandag toe geen verhouding met haar ma nie, ten spyte van pogings tot versoening.

LEES OOK: First wine show at Café Crust a great success

“Ek het op ‘n stadium gedink ek is nie daartoe in staat om lief te hê nie, maar as ek na hierdie mense kyk, besef ek ek is.”  Deur die naweek was daar getuienisse, opvoerings, gassprekers en natuurlik die oorhandiging van soberheidsmedaljes vir dié wat mylpale bereik het. Familielede is ook uitgenooi om deel van die ervaring te wees.

Elkeen se reis by die sentrum is anders, maar op ‘n naweek soos dié gee hulle deur hul verskillende getuienisse vir mekaar hoop. Die persoon wat dalk al vir drie maande sober is, sien dat hulle dit tot op ses maande kan maak, dié sien weer hulle kan dit maak tot op ‘n jaar, en so gaan die kettingreaksie aan.

Pieterse sê hulle probeer ‘n pad saam met elke liewe persoon wat by die sentrum aankom, stap. Hulle moet verstaan, maak nie saak hoe alleen en bang hulle voel nie, dat hulle nie alleen is nie en dat hulle ook nie hoef te wees nie.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button