Saloneienaar deel skokervaring, waarsku ander
Boewe slaan twee maal in die loop van 'n maand op salon toe.
Die eienaar van ’n plaaslike skoonheidsalon het op ’n Saterdagoggend in Februarie oudergewoonte haar salon oopgesluit en geskok en hartseer ondek dat haar onderneming ook deel van die inbraakstatistieke in die stad geword het.
Die inbraak by Face to the Wind Health, Hair, Beauty and Wellness Spa het omstreeks 05:00 die oggend plaasgevind, soms die tyd wat die eienaar, Diana Roux, ingaan om haar administrasiewerk op datum te kry.
Roux sê sy kon ruik daar hang ’n vreemde reuk in die lug. Die besef dat haar mooi salon in ’n deurmekaar gemors gelaat is, het haar hoendervleis gegee.

Verskeie elektroniese toestelle, onder meer die rekenaar en radio’s, is gesteel, asook klere, produkte en skoene wat in die salon verkoop word.
LEES OOK: Margherita Peak: Tog so mooi, maar geestelik uitputtend
“Ons moes twee dae se afsprake skuif en het dus ’n dubbele verlies aan inkomste gely.”
Minder as ‘n maand daarna het boewe weer toegeslaan. Dié keer is al die koperpype aan die buitekant van die gebou afgesteel; dit het die hele salon onder water gelaat.
“Hulle het doodeenvoudig die hekkie langs die huis oopgebreek en ook die boot wat op die perseel staan, van alle kamptoerusting beroof.” Dit het op ’n Sondag gebeur, en hulle kon eers weer die Dinsdag sakebedrywighede hervat.
As enkelma en sake-eienaar, sê Roux die lewe is soms ongenaakbaar; sy moes al ’n paar aanslae alleen hanteer.
“Soms was daar hulp, soms was gebed die enigste uitweg.
“Ons salon is daar om mense mooi te maak en goed te laat voel, en om in te stap en vind iemand het ons happy place verniel, is ‘n bietjie moeilik om te verwerk. Ons wil egter ons kliënte verseker dat ons ekstra veiligheidsmaatreëls tref om ’n veilige werksplek te verseker. Ons is weer volstoom aan die mooi maak.”
LEES OOK: Dis weer tyd vir Kwêla se Dorp van die Jaar
Sy het Hi-Tech vir hulle flink optrede met die eerste inbraak bedank. Hulle was binne vyf minute daar, het die polisie gebel en het daar gebly tot daar nog mense was en sy veilig was. In die dae daarna het hulle ook weer opgevolg.
“Ek doen ’n beroep op alle saloneienaars om hul sekuriteit te verskerp. Ons het ’n plan van aksie gereed ingeval ons dit eendag mag nodig kry. Omdat ons die meeste van die tyd met oop deure werk, skep dit ’n risiko vir misdaad. Maak seker wie stap in en uit, en hou veral verdagtes dop wat net op die sypaadjies sit.”
