Local newsNewsNews

Leon Maré: Groot Leeu van die Laeveld sterf

Leon Maré, 'n geliefde oud-Laevelder bekend aan baie as ''oom Leeu'', het Sondagaand 13 Maart om 23:00 vir oulaas gegroet. Sy erediens vind Vrydag 18 Maart om 10:00 plaas.

Oom Leeu, oftewel dr. Leon Maré (74), het Sondagaand om 23:00 vir oulaas gegroet. Dié oud-Laevelder het elkeen wie se pad hy gekruis het, vir ewig aangeraak.

“Hy is met ’n bang uit,” het sy baie hartseer vrou, Monica, Maandag gesê. Dit is hoe hy dit sou wou gehad het – vinnig. Vir baie Laevelders was hy jare lank hul geliefde tandarts, een wie se humor en aweregse sêgoed die lewe lekker gemaak het. Vir Monica en sy kinders, Eugene, André en Linda, was hy ’n rots, ’n onuitputlike bron van kennis, maar vir sy ses kleinkinders was hy ’n held.

Eugene sê as sy pa self sy eie finale hoofstuk kon skryf, sou dit presies geëindig het soos wat dit gebeur het. “My pa het graag gesê hy is Liewe Jesus se witbroodjie, en dit was waar. Hy was baie geseënd en die laaste jare was sy kleinkinders die begin en einde van sy bestaan. Ons het Sondagaand maar ’n vuurtjie aangesteek en na Koos Doep geluister. Ek dink hy sou trots gewees het.”

LEES OOK: Plaaslike skrywer teken nuwe boek by geleentheid saam met vriende

Hoewel die Marés in 2002 die Laeveld vir Engeland verruil het, het hulle nooit die stof van Afrika van hul skoene afgestof nie. Leon se hart en siel was steeds in die Laeveld gesetel waar die reuk van ’n hardekoolvuur, die klanke van die bos en goeie geselskap hom diep gelukkig gemaak het.

Hy het graag vertel hoe sy pasiënte in hul spore gestuit was as hulle die foto van hom met ’n luiperd in sy tandartstoel gesien het. Dié ikoniese foto is geneem toe Leon baie jare gelede op versoek van Cobus die luiperd gehelp het nadat die dier in ’n hok beseer is.

Die luiperd moes van een gebied na ’n ander verskuif word en het in die proses sy tand beskadig. Dit was ’n pragdier en daar is besluit om in te spring en te help. Leon het in sy praktyk in Witrivier die luiperd op sy tandartstoel laat lê en sy werk gedoen.

Die Marés het na 11 jaar uit die verte teruggekeer, en in Yzerfontein afgetree. Leon het tyd gekry om nog ’n groot liefde van hom, skryf, te laat gedy. Hy het ses titels self gepubliseer en was verheug toe sy boek, Karma van Ivoor, in 2018 op die rakke verskyn het. Vir die boekbekendstelling by Exclusive Books het hy na die Laeveld toe teruggekom. “Hy was dié dag baie siek, maar het hardkoppig met die geleentheid voortgegaan.

Hy is byna direk daarna in die hospitaal opgeneem waar hy tog wonderbaarlik ’n ernstige siekbed oorleef het,” vertel Eugene. Dié week het ds. Linde Claassen ’n boodskap gestuur: “Hoe jammer ek vir julle is, wil ek ook sê ek is saam met julle dankbaar vir sy vol lewe. ’n Lewe waar hy nou die ‘oorwinningskroon’ behaal het… en dis miljoene kere beter as ’n medalje by die Olimpiese Spele. Dankbaar saam met julle vir ’n lewe waarin hy getuig het dat die Here vir hom ’n tweede kans gegee het.”

LEES OOK: Wild stuff in Africa: The dumbest move ever

’n Vol lewe inderdaad – een waarin Leon na die Krugermiljoene gaan soek het, as kind ná ’n skelm sigaretjie die begraafplaas afgebrand het, aan ’n filmdraaiboek help skryf het, Ponta do Ouro toe gestap het, diere uit die Maputo-dieretuin help red het, krokodille “skelm” in sy tuin aangehou het, leeus gevang het en voluit geleef het.

’n Erediens vind Vrydag om 10:00 vanuit die NG Kerk Yzerfontein plaas. Laeveld-vriende word genooi om dié diens, wat gestroom gaan word, by die kapel by Ingwenyama Konferensie en Sportoord by te woon. Bywoning kan by Ria de Jager by 083 268 1071 bevestig word, sodat die nodige reëlings getref kan word.

Cobus sê: “Dit was vir ons ’n voorreg om Leon se vriende te wees, gelei deur sy toewyding tot die lewe, familie, vriende en die planeet. Sy wysheid so met vrymoedigheid gedeel, gaan ’n aanwysing bly op ons lewenspad. Tot ons weer sien, Oom Leeu.”

Die wildtuinlegende, Tom Yssel, het so reageer: “Ek is stomgeslaan. Oom Leeu se tent is ook iewers in die melkweg! Ek was verryk en geseënd om die pad saam met oom Leeu te kon geloop het.” In Karma van Ivoor is Tom Yssel juis die hoofkarakter.

Die sakeman, Piet de Jager, sê: “Oom Leeu, ek salueer jou vir die persoon en pêl wat jy vir my en my familie was, die tye saam in die bos om die kampvuur en die dae wat ons saam by hengelwaters spandeer het. Ons gaan jou geweldig mis. Mag jy nou in vrede gaan rus.”

Vriende wat die diens tuis wil stroom, kan die skakel:

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram    

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button