Local newsNews

Ongeluk eis twee volwassenes, kinders in Kiaat Hospitaal

‘n Boetie en sussie en ‘n vriend is tans in die hospitaal na ‘n motorongeluk vanoggend tussen Barberton en eManzana (voorheen Badplaas); die sibbe se ma en stiefpa is in die ongeluk oorlede.

Rochelle (11) en Markus (19) Bruyns is tans met ernstige beserings in Kiaat Hospitaal na hulle vanoggend (18 Maart) in ‘n ongeluk betrokke was. Dieselfde ongeluk het hul ma, Lizelle van der Merwe, en stiefpa, Jaco, se lewens geëis. ‘n Vriend van Markus, ook 19, was ook in die ongeluk beseer. Sy ouers het gevra dat sy naam nie genoem word nie.

Die ongeluk het gebeur na twee bakkies na bewering kop aan kop gebots het. Volgens die woordvoerder van ER24, Russel Meiring, het die bestuurder van die ander bakkie geen ernstige beserings opgedoen nie.

Dié foto van Lizelle en Rochelle is gister (17 Maart) geneem. > Foto: Verskaf

‘n Vriend van die gesin, Bruce Macaulay, is tans by die kinders in die hospitaal en sê al drie van hulle is op hierdie stadium stabiel.
Volgens Macaulay het Rochelle haar linkerheup gebreek en haar pelvis het ook seergekry. Daar is ‘n skeur in beide haar lewer en haar milt en sy het ook ‘n kopwond.

LEES OOK: Leon Maré: Groot Leeu van die Laeveld sterf

Markus het inwendige beserings en ook ‘n gekraakte pelvis. Sy vriend het ook inwendige beserings. “Hy het sy heupe gebreek en sy borsbeen gebreek.”

Die Bruyns se suster, Lerushka (21), het na die ongeluk van Malalane af deurgery om haar boetie en sussie te kom ondersteun.

Lerushka, Rochelle en Markus toe hulle nog almal op skool was. > Foto: Verskaf

Daar is geen mediese fonds om die Bruyns-kinders se mediese onkostes te dek nie, en ‘n fondsinsameling word tans gehou om daarmee te help. Vind die besonderhede hier onder:

Lizelle se ouers kom ook binnekort uit die Kaap uit om ondersteuning aan hul kleinkinders te kom bied.

LEES OOK: Saloneienaar deel skokervaring, waarsku ander

Macaulay sê die ondersteuning vanuit die Witrivier-gemeenskap tot dusver is ongelooflik en hulle het reeds fondse ontvang. Dwarsdeur hierdie hele tragedie het die gemeenskap saamgespan en alles in hul vermoë gedoen om die kinders by te staan.

Hy sê dat die kinders die ongeluk oorleef het, is opsigself ‘n wonderwerk. “Ek sien vandag nog net die Here se hand in alles. Ek wil net vir jou sê, daar is ongelooflike mense daar buite.”

Kontak Macaulay op 079 883 7806 as jy op enige ander manier wil help.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button