Local newsNewsNews

Nóg ‘n aapbytvoorval by Skukuza

Ná 'n aap haar op haar bobeen in die wildtuin gebyt het, weier 'n vrou om dié piekniekarea weer te besoek.

‘n Vrou het gesweer om nooit weer na hierdie piekniekterrein in die Nasionale Krugerwildtuin terug te keer nadat ‘n blouaap haar aan die bobeen gebyt het.

Na aanleiding van ‘n aapbytvoorval waaroor Laevelder op 3 Februarie berig het, het Elsa Smith dit goed gedink om ook háár ervaring van 16 Maart met die publiek te deel en hulle te waarsku.

Sy en ’n vriendin het tydens hul dagbesoek besluit om hul ete daar te geniet.

“Ons is na ’n plek deur ’n werknemer begelei wat gesê het dat die ape lastig is, veral as daar nie ’n man in die geselskap is nie, en dat hy die persoon is wat hulle moniteer.

LEES OOK: Die Step Foundation is geanker in barmhartigheid en gemeenskapsorg

“By ons plekkie aangekom het hy ’n paar klippe met ’n kettie geskiet wat die ape op daardie oomblik laat terugdeins het. Toe hy omdraai en wegloop, was die ape binne drie minute weer sigbaar.

“Ons het skaars ons koelsak oopgemaak toe spring ’n aap op ons tafel, gryp van die kos en op pad agter my rug om, byt hy my aan die bobeen!”

Smith sê dit was regtig skrikwekkend. Sy het gelukkig net met ’n skraap en ’n kneusplek daarvan afgekom, maar sê sy sal nooit weer van hierdie fasiliteite gebruik maak nie.

Sy het dit duidelik gemaak dat hulle nie die ape gevoer het nie en sê die werknemer se kettie het vir hulle duidelik niks beteken nie.

LEES OOK: Skukuza-aap byt vrou

Isaac Phaahla, die woordvoerder vir die Krugerwildtuin, het met die vorige insident aan die koerant gesê dat daar een spesifieke trop is wat die Skukuza-dorpie en -toeristefasiliteite binnegedring het, maar die afdelingsveldwagter monitor hulle.

Ingevolge die nuutste voorval sê Phaahla dat opvoedkundige sessies steeds voortgaan om mense in te lig oor hoe om in die park op te tree, so ook hul pogings om die situasie te beheer. Hy sê hulle het opgelet dat daar ’n verhoging is in die teenwoordigheid van primate wat gewoond geraak het aan hierdie tipe publieke omgewings.

“Ons natuurbewaarders is besig met goedgekeurde, wettige planne om die probleem te hanteer.”

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button