Innibos nog nie volskaal, maar bied steeds heeltyd feestyd
Innibos sal vanjaar nog onder beperkings wees, maar wees verseker dat 2023 die fees der feeste sal oplewer.

Hoewel die onlangse verslapping van Covid-19-regulasies goeie nuus was vir feeste soos Nampo en KKNK, wat onder streng maatreëls en op ‘n kleiner skaal kon voortgaan, staan die direksie van die Innibos Nasionale Kunsefees by hulle besluit om nie vanjaar dié fees in sy volle glorie aan te bied nie.
Die aanvanklike besluit om die fees te kanselleer is tydens ‘n direksievergadering in Februarie geneem. Sandra Jacobs, die media- en bemarkingsbestuurder van Innibos, sê: “Dit neem bykans ‘n jaar om Innibos onder normale omstandighede te rëel. Met die winter wat aan ons deur klop, beperkinge wat nog nie heeltemal opgehef is nie, die risiko van ‘n vyfde vlaag van infeksies in Mei, asook die verwagte voortgesette regulasies rakende groot byeenkomste, is hierdie besluit onvermydelik.” Sy sê dat hulle eerder doodseker wil wees dat ‘n groot fees kan plaasvind, voor enige besluite gemaak word.
LEES OOK: Oud-Lydenburger teken nuwe rekord aan en word as pampoenkoning gekroon
Dr. Mathews Phosa, die voorsitter van die Innibos-direksie, het voorheen gesê dat dié besluit geneem is met inagname van die risiko en ontwrigting vir feesgangers, kunstenaars, borge en ander rolspelers indien die fees weer weens onvoorsiene omstandighede afgestel moes word.
“Maar wees verseker, vir 2023 beplan ons die fees der feeste. Innibos gaan wel vanjaar, ondanks beperkinge, voort om sy mandaat as kunstefees gestand te doen. Onder die oorkoepelende tema ‘Heeltyd Feestyd’ sal verskeie opwindende projekte deurlopend in en om Mbombela aangebied word. Ons beplan om steeds optreegeleenthede aan kunstenaars te bied, die plaaslike ekonomie te stimuleer en ‘n ondersteunende en opbouende rol in die plaaslike gemeenskap te speel deur middel van eiesoortige projekte, getrou aan die aard van Innibos.”
LEES OOK: Recce-storieaand bring baie weermagnostalgie
Van die projekte wat beplan word, is onder ander verskeie musiekvertonings in genres wat strek van rock tot klassieke musiek en jazz, ‘n teatersafari, ‘n familiefees met talle buitelugaktiwiteite, asook die sesde aanbieding van die Innibos Handwerkkunskompetisie.
Jacobs het verder gesê dat die klem vanjaar daarop val om ‘n wye verskeidenheid unieke ervarings vir feesliefhebbers aan te bied wat die fees steeds relevant hou en vir ondersteuners van die kunste genoeg bied om te geniet. “Innibos kon, ondanks die beperkende Covid-regulasies, verlede jaar vir meer as 220 uitvoerende kunstenaars werk skep, en ons wil dit vanjaar oortref.”
Die finale datums vir die onderskeie Innibos-projekte sal binnekort aangekondig word.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
