Mbombela-ma dankbaar vir gemeenskapshulp met fondsinsameling vir dogter
Lynette Holtzhausen se dogter is in 2019 met 'n hartkondisie gediagnoseer. Nou samel sy fondse in om te help om die mediese kostes te dek.
Haar ma sê sy is ‘n absolute vegter, en met behulp van die gemeenskap kan sy haar stryd verder voer.
Luané Nagel (19) is in November 2019 met ‘n atriale septale defek gediagnoseer – ‘n kondisie waar ‘n gaatjie in die hart tussen die boonste twee hartkamers ontstaan.
Maar dit was ‘n gesukkel om by dié diagnose uit te kom. Dit het alles begin toe sy 15 was, vertel haar ma, Lynette Holtzhausen. “Sy het begin kla oor moegheid, sy het hierdie kringe onder haar oë gehad en sy het nie ‘n eetlus gehad nie, en sy het gewig begin verloor.”

Daar is vir Holtzhausen gesê Nagel is in haar tienerstadium en ly aan depressie. “Almal wou net antidepressante voorskryf. Ek het geweier om dit vir haar te gee.
“Ek ken my kind; sy was nie depressief nie.”
Haar ma het nie opgehou tot hulle by ‘n kardioloog uitgekom het nie. Dié het ná ‘n sonar gesien die bloed in haar hartkamers meng. Op 11 Desember 2019 het sy ‘n opehartoperasie ondergaan. Sy was vir ses dae in die intensiewesorgeenheid, gevolg deur fisioterapie om weer te leer sit en dan loop.
LEES OOK: Innibos nog nie volskaal, maar bied steeds heeltyd feestyd
Daarna was dit maar steeds teenspoed; Nagel was in en uit ongevalle. Verlede Julie het sy egter weer erg verswak.
“Sy het in haar kamer gelê en my geroep, maar ek het haar nie gehoor nie, toe bel sy my. Toe ek in haar kamer kom, het haar mondjie so skeef getrek en sy gelê en ruk.” Hulle is dadelik ongevalle toe, waar daar gesê is dit was ‘n angsaanval.

“Om ‘n lang storie kort te maak, het ek net besluit ek gaan nie vir hierdie goed val nie.”
Sy het by ‘n spesialis by Netcare Unitas Hospitaal uitgekom na ‘n lang gewag – hy het bevestig dit was ‘n beroerte. Hy het ook met ‘n sonar bevestig dat die aanvanklike operasie nie ‘n sukses was nie.
Ná hierdie besoek wag daar nóg twee spesialiste, aangesien die kwessie verder strek as net kardiologie. Alhoewel hulle oor ‘n mediese fonds beskik, sê Holtzhausen die spesialiste en dies meer word betaal deur die dag-tot-dag-dekking, wat lankal uitgeput is.
So het sy besluit om fondse te begin insamel, eers met worsbroodjies en later met lootjies.
LEES OOK: Markdag stel entrepreneurs se vele talente ten toon
Alhoewel sy nie weet waar die mediese kostes gaan ophou nie, is sy opreg dankbaar vir die ondersteuning wat sy tot dusver ontvang het. Dit het gekom van vriende, plaaslike sakeondernemings en vreemdelinge uit die gemeenskap.
Daar is byna te veel om te noem, maar sy wil net vir almal dankie sê.
Terwyl sy worsbroodjies verkoop het, het ‘n vrou na haar toe gekom en gesê dat sy nie geld het om te gee nie, maar dat sy sou bid. “Elke bietjie help.”
Daar is lootjiekaartjies beskikbaar vir ‘n jaguitstappie na ‘n plaas buite Mbombela (R50 per kaartjie), vir ‘n naweek vir twee by Matumi Golf Lodge (R100 per kaartjie) en vir een hele lam van Kameeldrift Slagtery (R50 per kaartjie). Skakel Holtzhausen by 072 678 0556.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
