Local newsNewsNews

Besonderse paar Boerboel-bene verteenwoordig Mbombela

Met sulke paar bene het die stad dalk binnekort 'n verteenwoordiger in die Boerboel-klerewêreld. Lees meer oor dié man se transformsie en sy planne om die Boerboel Bene Kompetisie te wen.

Al die tannies wat die Boerboel-blad dophou is dit eens, ‘n mooi paar bene was nog nooit lelik nie.

In hierdie stad is dit geensins anders nie. Mbombela sal eersdaags in die fassinerende wêreld van Boerboel-bene verteenwoordig word.

André de Goede jr. (37) van die welbekende De Goede Finance Universe het sowat twee jaar gelede besluit sy gesondheid gaan in die lang termyn vir hom baie belangriker wees as enigiets anders.

Oor hierdie twee jaar het hy baie geleer van oefening en gesondheid, en watter kombinasie van dié twee vir hom werk; en hét dit gewerk!

André de Goede vóór sy transformasie.

“Op ‘n punt het ek begin spiere bou en nie net vet verloor nie. Stadig maar seker soos ek gegym het en op Facebook gepost het, het ek al hoe meer komplimente gekry; al hoe meer mense wat sê dié transformasie is nogal groot,” sê De Goede.

LEES OOK: Bacchus Nel onthaal by Nagkantoor in Kaapsehoop

Hy koop nou al vir ‘n tydjie lank Boerboel-klere. Hy lag en sê, “My vrou en my naaste familie het nou al vir my gesê ek is gebless met bene, toe voel ek, maar dan gaan ek dit afshow!

“Toe sien ek hierdie advertensie van die Boerboel-tannies wat so funny is, jô, dit was baie snaaks.

“Toe hulle praat van die Boerboel Bene Kompetisie dink ek, hier is my kans. Ek het lánk gelede vir hulle ‘n foto gestuur en gevra, ‘Hei, kan ek ‘n model wees?’ en hulle het my net geïgnoreer. Maar toe was ek baie kleiner; ek was nie so gespierd nie, dit was maar heel aan die begin.”

Een van die foto’s wat André de Goede aanvanklik vir die Boerboel Bene Kompetisie wou instuur.

So het hy op Facebook foto’s geplaas en sy plan om in te skryf aangekondig. Na aanleiding van die reaksie wat hy gekry het en die aanbod van ‘n gratis fotosessie, het hy besluit om ‘n bietjie meer moeite met die voorbereiding te doen. Hy het nog kans tot 30 April om homself gereed te kry; van ‘n tan tot beenhare skeer.

Hy sê hierdie is nie sy “big break” nie, maar die geleentheid kom op ‘n silwer skinkbord – waarvoor hy baie hard gewerk het. “Ons is nie lank op die aarde nie, so wat ook al ‘n ou maksimum uit jou lewe kan trek, nóú is die tyd.”

LEES OOK: Mbombela-ma dankbaar vir gemeenskapshulp met fondsinsameling vir dogter

Een van die foto’s wat André de Goede aanvanklik vir die Boerboel Bene Kompetisie wou instuur.

Hy sê hy het nie regtig ‘n doel hiermee nie, maar doen dit bloot omdat dit iets is wat hy geniet. Hy het al onder sy vriende gespot en gesê selfs al wen hy net ‘n gesigsroom, is dit reg so.

Gelukkig is sy vrou, kinders en ander familie sy grootste aanhangers.  Oor die tannies se kommentaar het hulle ook al baie gelag.

“Ek dink nie jy het ‘n idee hoe baie lag ons hieroor nie. Dit is vir my verskriklik snaaks; daai video’s wat Boerboel maak is baie funny.

“My vrou is gelukkig ook nie die jaloerse tipe nie. Ek sal wys wat ek kan tot my vrou my sê ek moet ophou,” lag hy.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button