Local newsNewsNews

Grootouers het nie genoeg dankies vir gemeenskap ná ongeluk

Rochelle en Markus Bruyns se ouma en oupa vertel hoe baie hulle die gemeenskap se bystand waardeer het na die twee kinders se ma en stiefpa in 'n motorongeluk oorlede is.

“As vreemdelinge het ons hier aangekom, maar ons groet julle as vriende. Die manier hoe julle ons ontvang en toegevou het in liefde en omgee, sal ons in ons lewens nooit vergeet nie.”

Dit is die woorde van Rochelle en Markus Bruyns se ouma en oupa ná ’n ongeluk wat hul ma, Lizelle van der Merwe, stiefpa, Jaco van der Merwe, en vriend, Michael Sinden, se lewens geëis het.

Oupa Tienie en ouma Joan Coetzer het Laeveld toe gekom om hulle kleinkinders in hierdie moeilike tyd te kom ondersteun. Hulle sê die ondersteuning en hulp wat hulle van die Witrivier-gemeenskap af gekry het, was vir hulle absoluut ongelooflik.

LEES OOK: Mbombela-ma dankbaar vir gemeenskapshulp met fondsinsameling vir dogter

“Nie net het julle van die eerste oomblik af die kinders emosioneel ondersteun nie, maar vir ons het julle soos familie hanteer.

“Daar is ’n liedjie wat sê: ‘Hoe sê mens dankie?’, want 1 000 dankies is te min om ons waardering uit te spreek vir álles wat soveel mense, insluitend Bruce Macaulay, Elana Burger, Nandi van Heerden, Marinda Pienaar en Calie Burger vir ons gedoen het.

“Dankie aan soveel verskillende mense wat vir ons kos gebring het. Dankie vir die bakkie wat jy tot ons beskikking gestel het, Elana, vir die onnoembare hoeveelheid reëlings wat jy en Bruce getref het, en vir die raad en hulp op soveel vlakke.

“Dankie, Elana, dat jy jou huis vir ons oopgestel het, ons rondgery en emosioneel ondersteun het.

LEES OOK: Bacchus Nel onthaal by Nagkantoor in Kaapsehoop

“Dankie, Bruce, dat jy steeds daar is vir die kinders, veral ook vir Markus. Ons is julle ewig dankbaar.

“Dis so jammer dat ons julle in hierdie hartseer omstandighede moes leer ken, maar ons prys die Here dat ons paaie wél gekruis het.

“Weet net, julle is vir altyd in ons harte. Julle het ons lewens verreik op besonderse maniere. Ons bid dat die Here julle sal seën met die begeertes van julle harte. Mag Sy goedheid en guns julle vooruitgaan en agter julle aankom.

“Baie, baie dankie!”

Rochelle bly tans by Elana, en Markus by ’n vriend.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button