Francois Jacobs se soektog na liefde skop binnekort af
Skakel op 14 April op kanaal 144 in vir die eerste episode van Op My Eish! se tweede seisoen, met Francois Jacobs.
Gaan die sjarmante Francois Jacobs liefde in die nuwe seisoen van Op My Eish! vind?
Kykers kan vanaf Donderdag 14 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) inskakel wanneer Jacobs se soektog na liefde begin.
In November het die dames die geleentheid gehad om in te skryf met die hoop om sy oog te vang. Uit al die menige inskrywings wat hy ontvang het, moes hy 15 kies wie hy beter wou leer ken.
LEES OOK: Bacchus Nel onthaal by Nagkantoor in Kaapsehoop
Hy gaan nou vir die volgende 13 episodes die geleentheid kry om dit te doen. Die dames gaan uitvind presies hoe avontuurlustig dié man is, met ‘n verskeidenheid van aktiwiteite, insluitend kanovaarte, motorfietsritte en rekspronge van ‘n brug af, wat beplan word. Tussendeur gaan hy dan ook persoonlik tyd met elk van die dames spandeer.

Onder die 15 deelnemers is daar drie van Kaapstad, twee van Krugersdorp en een van elk van Middelburg, Vanderbijlpark, Pretoria, Mosselbaai, Centurion, Fochville, Lydenburg, Hartebeespoort, Roodepoort en Mbombela.
Dit is egter nie net maanskyn en rose om na liefde te soek nie – Jacobs moet deurgaans die moeilike besluit maak van watter dame hy volgende huis toe moet stuur. Gelukkig is sy wingman, die akteur en komediant, Schalk Bezuidenhout, die hele tyd daar om hom in die proses by te staan.
LEES OOK: Mbombela-ma dankbaar vir gemeenskapshulp met fondsinsameling vir dogter
Die reeks is in en rondom Jacobs se tuisdorp, Mbombela, verfilm. “Een van ons grootste uitdagings was die hitte en humiditeit in die Laeveld,” sê Gideon Eksteen, die uitvoerende vervaardiger by Wakanda Media, die produksiehuis wat die reeks vervaardig.
“Dít, saam met die fisiese aktiwiteite, het dit ‘n uitdaging nie net vir die produksiespan gemaak nie, maar ook die vroue wat die heeltyd gesê het: ‘Dis so tough, maar so lekker.’”
Net soos in die eerste seisoen van Op My Eish!, kan die kykers na heelwat drama en intrige uitsien, van gebroke harte en beserings tot onverwagse bekendstellings en skokonthullings.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
