Olivia verteenwoordig Riverview Prep by SA’s met top 10 gewigstoot
Olivia Scheepers van Riverview Preparatory School het haar uitstekende atletiekseisoen by die SASA Nasionale Primêre Skole Baan en Veld Kampioenskappe van 24 tot 26 Maart in Potchefstroom by die Kenneth McArthur Stadium geëindig.
Olivia het algeheel sesde plek in die land vir die dogters o. 12-gewigstoot bereik met haar afstand van 10,21 m. Olivia het oor die Onderberg en provinsie aandag getrek met al die goue medaljes wat sy dié seisoen by plaaslike en provinsiale atletiekbyeenkomste gewen het. Sy is vir die provinsiale atletiekspan gekies nadat sy haar persoonlike beste, 10,29 m, by die Mpumalanga-kampioenskappe se atletiekbyeenkoms op 12 Maart in Secunda gestoot het.

Alhoewel sy SA’s toe is vir gewigstoot, het Olivia in vorige byeenkomste ook medaljes ontvang vir haar verspring, 150 m-naellope en aflos. Dié jaar was ‘n eerste vir haar toe sy haar kompetisie tot op ‘n nasionale vlak uitgestof het. “Aan die begin het ek baie gestres, want daar was sulke groot meisies in wie se voorkoms ek verdrink het, maar toe hulle gestoot het, het hulle so ver soos ek gestoot, en net só was die vrees weg. Dit was ‘n baie lekker dag en ‘n groot voorreg om daar te wees!” het Olivia gesê.
LEES OOK: Komatipoort Stoeiklub se nuwe wildehonde skop seisoen af
Haar ouers, André en Estie Scheepers, het haar van dag een af ondersteun, haar pa as afrigter en ma as voorsiener. Die gesin het die meeste gemaak van Olivia se seisoen. “Dis alles nog nuut vir Olivia en ons, maar ons is so trots op haar en kan nie wag om te sien wat sy nog in die toekoms gaan bereik nie,” het Estie gesê.
LEES OOK: Vlooimark in Marloth Park duur amper twee weke lank
