Local newsNewsNews

Witrivier Rugbyklub bring hulde aan geliefde speler

Nazo Nkala is op 14 April oorlede. Hy laat 'n leemte in sy familie én rugbyfamilie se harte, maar hulle het talle herinneringe wat hulle altyd sal bybly.

Al was hy nie meer amptelik deel van die Witrivier Rugbyklub nie, sal die spore wat die 26-jarige Nazo Nkala met sy tokse in dié ”familie” se harte getrap het, nog lank daar bly.

Nkala is op 14 April oorlede nadat hy op 3 April in ‘n motorongeluk in Limpopo betrokke was. Sy oom, Moeketsi Hamsley Kalane, sê hy het nie woorde ná sy susterskind se afsterwe nie; Nkala se ouer broer is ongeveer ‘n maand gelede ook oorlede. “Die lewe is nie regverdig nie, veral as dinge soos hierdie gebeur, maar dit is alles God se plan.”

Nkala se begrafnis sal in Ladybrand in die Vrystaat gehou word.

Ten spyte van die hartseer wat sy rugbyfamilie in hierdie tyd ervaar, het hulle wonderlike herinneringe van die vier jaar wat hy vir die klub gespeel het.

Nazo Nkala. > Foto: Verskaf

Een van sy vriende en spanmaats, Marcelino Marais, onthou hom as “’n helse goeie speler”. Een spesifieke wedstryd het by hom geopper toe hy aan Nkala gedink het. “Ek onthou nog in 2019 toe ons weg teen Witbank gespeel het; hy het daar met ‘n gebreekte hand van ‘n week tevore opgedaag. Toe vra ek hom: ‘Jissou, tjom, maar wat soek jy hier?’”

LEES OOK: Die kat kom weer

Die antwoord wat hy gekry het was ‘n nonchalante: “Ek gaan mos hier speel, man.” “Maar wat van jou hand, bra?” vra Marais, en byna ontsteld sê Nkala: “Hey, djy, man, die ding is reg!”

Nazo Nkala. > Foto: Verskaf

Marais sê hy het by sy vriend geleer dat as jy rugby speel en sukses wil behaal, jou hart daarin moet wees. Nes dit vir hom ‘n voorreg was, so ook was dit vir ander span- en bestuurslede wat deel van Nkala se lewe was. Die klub se hoofafrigter, Deon Helberg, het nét so ‘n hegte band met hom gehad.

“Nazo kan op baie maniere beskryf word. Daardie beskrywing het egter drasties verander die oomblik toe ek die man agter die masker leer ken het. Dis toe dat ek besef het die voorreg om deel van sy mondering te wees, is absoluut myne.

“Ons vind vrede in die feit dat daar nog lank gelag en stories by die klub oor Nazo, ‘Hond’, ons malste vriend, vertel word.  “Saggies rus, ou maat, dis weer eens hier by ons ‘n bietjie leër sonder jou.”

Die span se fisioterapeut en fiksheidsafrigter, Adri Fourie, het ook dikwels met hom te doene gehad, tot só ‘n mate dat sy spanmaats gespot het oor of daar genoeg pleisters vir Nkala was.

Nazo Nkala. > Foto: Mariana Balt

LEES OOK: Ondersoek in Komatipoort-moordsaak duur steeds voort na meer as drie jaar

“Tannie, jy moet sommer ‘n hele boks net vir hom hou,” het hulle gesê. “Nazo was vir my ‘n speler op wie ek altyd nuwe metodes vir strapping kon gebruik en toets, want daar was altyd iets wat gepleister moes word. Van ‘n gebreekte hand tot floating patellas, alles moes altyd ‘Styf, asseblief, Tannie, ek wil hom nie voel nie!’ gewees het. Hy het my ook altyd laat lag met die manier van staaltjies en gappies vertel. As die woorde geglip het, het hy gou jammer gesê: ‘Ai, skies, Tannie, maar jy’s mos een van die boys, sorry sorry,’ en weer aangegaan met sy storie.”

Die voorsitter van die klub, Pietman Rademeyer, sê hy het vir Nkala baie geleer, van skiet tot bestuur, maar tog het die jong man hom alles van rugby geleer. Hy was vir baie, insluitende Rademeyer en sy vrou, Annemarie, soos ‘n kind gewees. “Hy het die wêreld se talent gehad en was ‘n ander mens as hy op die veld gedraf het.

LEES OOK: Plaaslike fotograaf genomineer in landswye kompetisie

“Hy was ‘n junior o. 19 SA rugbyspeler en op nommer 14 was hy ‘n masjien. Hy het by baie klubs gedraai, maar daar was net een waar hy vir vier jaar gebly het, en dis by Witrivier.” Nog een van die bestuurslede, Conrad Botha, by wie Nkala vir ‘n tyd lank gebly het, het hom as deel van sy gesin beskou. “Jy het altyd ‘n smile op jou gesig gehad en daardeur het jy almal rondom jou laat lag. Jy het ook geweet wanneer om ernstig te wees. En ek en my gesin sal jou altyd daarvoor onthou. Jy sal gemis word.”

Annemarie sê die klub gaan vir hom ook ‘n gedenkplaat oprig, “soos ons doen met almal wat ‘n merk by ons gelaat het.”

“Die spelers en afrigters weet dat ons ook hierdie seisoen aan hom opdra. Dis nie iets wat ‘n mens adverteer nie, maar dis wel iets wat elke liewe een van ons in ons harte weet.”

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button