Die bonsaiwêreld deur sy nuwe president se oë
Die voorsitter van Mbombela se bonsaiklub is onlangs as die president van die Suid-Afrikaanse Bonsaivereniging verkies.
Hy is in 2014 as die voorsitter van die Nelspruit Bonsai Kai (“klub” in Japanees) verkies en nou, agt jaar later, as die president van die Suid-Afrikaanse Bonsaivereniging (SABA).
Tola Smit sê hy wil nie op homself fokus nie, maar die organisasie as geheel en wat hulle in die jare wat voorlê wil vermag. Hy brei ook ‘n bietjie uit oor die geskiedenis en strukture van die verskeie organisasies wat onder SABA val.
Die Nelspruit-klub in sy huidige vorm, vertel hy, het sy ontstaan as gevolg van Kobus Trichardt, wat van Pretoria af hierheen verhuis het. Hy het die Pretoria-klub gevra om te help om ‘n klub hier te vestig.
“Pretoria het gehelp tot ek in 2014 as voorsitter oorgeneem het,” sê Smith, “en die bestuurskomitee besluit het ons moet ‘n volwaardige klub op ons eie word. ‘n Konstitusie is opgestel en aanvaar, en van daar was die klub op sy eie bene.”
In November 2019 word daar ‘n bonsaikonvensie in Pretoria gehou, waar ‘n nuwe bestuurskomitee vir SABA verkies word. Hiér is Smit as sekretaris gekies.
“Met die Covid-19-pandemie en die verbod op byeenkomste, het dit uiteraard ook die bonsaibedrywighede soos ons dit ken beïnvloed, en moes die mense wat die kuns beoefen, ander maniere kry om hulle handwerk ten toon te stel.
ALSO READ: Plaston now three months without electricity
“YouTube, Zoom en Skype het vinnig alledaagse terme geword en word steeds baie gebruik om veral mense buite die streek waar die bonsaikunstenaars bly, te bereik.”
Bonsaistrukture bestaan natuurlik nie net hier nie, maar wêreldwyd. Die World Bonsai Friendship Federation (WBFF) is die wêreld se oorkoepelende bonsai-organisasie en bestaan uit nege streke, waarvan Afrika een is.
Dit is op dié wêreldverhoog waar SABA graag sy stem wil laat hoor; die organisasie gaan ‘n bod insit om die 10de bonsaiwêreldkonvensie hier aan te bied. Die negende word vanjaar in Australië gehou ná dit verlede jaar weens Covid-19 uitgestel is; dit sal virtueel geskied. Dié land verwag ongeveer 3 000 registrasies, sê Smit, wat baie min is in vergelyking met die meer as 45 000 mense wat die agtste van hierdie konvensies in 2017 in Japan bygewoon het.
Daar word gepoog om die konvensie elke vier jaar te hou. Die WBFF-bestuurskomitee sal tydens die Australië-konvensie in Oktober bymekaarkom om te besluit oor die 10de en wie dit gaan aanbied.
“Tans het beide Afrika en Asië aan die Stille Oseaan aangedui dat hulle belangstel, en sal SABA uiteraard ‘n bod moet insit aan die WBFF om die geleentheid in Suid-Afrika aan te bied.
ALSO READ: Water leak at Nelspruit SPCA a growing concern
“Konserwatiewe aannames is dat, sou SABA dit aanbied, ons ten minste 10 000 plus besoekers kan verwag. As gevolg hiervan het Jonathan Cain, die voorsitter van die Bonsaivereniging van Afrika, die Departement van Toerisme genader vir ‘n bydrae, aangesien so ‘n geleentheid toerisme na Suid-Afrika baie kan bevorder,” sê Smit.
Hy sê die departement het aangedui dat hy tot R1 miljoen sal bydra tot die fisiese konvensie en dan ook sal help met, onder andere die bemarking daarvan.
Oor die SABA-komitee sê toekomsplanne, sê Smit, “Behalwe vir die voorbereiding van ‘n suksesvolle bod vir WBC10, is die ander twee hoofdoelwitte om meer klubs betrokke by SABA te kry en ook om kommunikasie tussen die klubs te bevorder deur gereelde minikonvensies in die verskillende streke van Suid-Afrika, sodat die bonsaigemeenskap ‘n platform het om mekaar te kan ontmoet, beter te leer ken en hulle passie vir dié stokperdjie en kuns met mekaar te kan deel.”
