Local newsNewsNews

Inwoners die josie in oor kragonderbrekings

Geen einde in sig met Barberton se kragverskaffingsprobleme.

Wenkbroue het die afgelope maande gelig oor die kragonderbrekings wat op die dorp voortsleep.

“Ek is nou besig om my m*er te koer! Dis elke keer dieselfde verskoning. Dis pateties. Ons met ons boorgat kan nie eers skoon kom (bad en was) nie. Geen krag beteken geen water.”  So mor ‘n hoogs ontstelde Alicia Naudé, ‘n inwoner van die dorp, oor die kragverskaffingsprobleme hier.

“Ons met kinders kan nie bottels maak nie, want ‘n mens verwag nie die krag gaan kamma trip nie! En ons (elektriese) toerusting is ook stadig besig om te k*k.”  Naudé is maar een van talle inwoners wat gal braak oor die situasie.

LEES OOK: Eerste chemobehandeling vir Verna

‘n Oplossing vir die gedurige kragonderbrekings was die aanbou van ‘n nuwe substasie.  Die bouprojek van nagenoeg R51 miljoen is drie jaar gelede begin.

“Daar gebeur tans niks met die bouwerk nie en dit lyk of dit nooit voltooi gaan word nie,” sê Willem Malherbe, ‘n inwoner van die dorp.  Die sloerwerk aan die substasie is een van vele klagtes wat verlede week tydens ‘n gemeenskapsvergadering in Mbombela aan die lig gekom het.

“Ek het nie van een van die probleme geweet nie,” het Sibongile Makushe, die burgemeester van die stadsraad, tydens die vergadering gesê.

LEES OOK: Vier Komatipoorters woon SA Tweekamp by byTweekampbyeenkoms in Gqeberha

“Toe ek hoor mense kla hieroor, het ek onmiddellik vir die speaker, William Nkhata, gevra wat aangaan. Dit is nou die eerste keer dat ek hiervan hoor. Ek kan die versekering gee dat die saak dringende aandag sal geniet,” het Makushe gesê.  Joseph Ngala, die munisipaliteit se woordvoerder, het by navraag gesê die bou van die kragstasie is ‘n vyfjaarprojek.

Hy ontken dat bouwerk gestaak is en sê dit word gedoen soos en wanneer geld beskikbaar is.  Die substasie word deur die nasionale departement van energie onder die integrale nasionale elektrifiseringsprogram befonds. Die geld word jaarliks aan die raad oorbetaal
“Die geld is egter nie genoeg om die projek op een slag te voltooi nie,” sê Ngala.

Volgens hom is daar in 2020 met die projek begin. Twee inkomende lyne vanaf Eskom (feeders) en agt transmissielyne (na verbruikers) is aangelê. Dit is om die substasie te beskerm in gevalle waar daar ‘n oorlading mag plaasvind. Die toerusting is in die kragstasiegebou aangebring.

LEES OOK: Komatipoort Voortrekkers herleef lydensweg simbolies

Die afgelope finansiële jaar is  verdere elektriese stroomtrans-formators en ander toerusting geïnstalleer.  In die huidige finansiële jaar word ‘n kabelnetwerk en nog ‘n transformator aangebring.

Volgens Ngala is die toerusting reeds vanaf Actom bestel en word dit teen die einde van Junie afgelewer.

“Die projek se verwagte voltooiingsdatum is Junie 2023.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button