Local newsNewsNews

Gewilde meesterklasse voor eisteddfod beskikbaar

Innibos het verlede jaar baie suksesvolle werkswinkels ter voorbereiding van die Nelspruit Eisteddfod 2022 aangebied; vanjaar maak hulle weer so.

Kaz McFadden, die bekende akteur wat al rolle in Binnelanders, Villa Rosa en 7de Laan vertolk het, is die aanbieder van hierdie meesterklasse.

As verhoogakteur was hy al in verskeie teaterproduksies soos Vaselinetjie en Iewers op die grens te sien. Agter die skerms het hy sukses as die artistieke direkteur van Nomad Productions en as skrywer en regisseur van Fladder en Aan die ander kant behaal. Hy het sy uitsonderlike talent in talle films soos onder andere Die Wonderwerker, Knysna en Strikdas getoon.

Kaz McFadden.

LEES OOK: Eerste chemobehandeling vir Verna

McFadden is nie net ‘n bekende akteur nie, maar ook ‘n passievolle dosent en besturende direkteur van Pali Incubation, ‘n opleidingsentrum vir akteurs, regisseurs, vervaardigers en ander kreatiewe persone. As dosent is hy aktief binne die vermaaklikheidsbedryf betrokke by die aanbieding van kursusse wat prakties en industriegedrewe is.

In hierdie werkswinkels gaan hy temas behandel soos stemgebruik, stemprojeksie, uitspraak, memorisering van tekste, lyftaal, selfvertroue, toesprake, filmwerk, die keuse van tekste, dialoë, hoe om senuwees te beheer en die sakekant van die vermaaklikheidsbedryf.

LEES OOK: Vier Komatipoorters woon SA Tweekamp by byTweekampbyeenkoms in Gqeberha

Hierdie is die ideale geleentheid vir leerders wat aan die Nelspruit Eisteddfod gaan deelneem, om hulle talente te slyp en sodoende voor te berei vir die eisteddfod wat in Augustus afskop.

Hierdie werkswinkels word deur NATi (die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief) geborg en is deel van Innibos se projekte om die kunste te bevorder. “Dit is vir NATi belangrik om in die jeug te belê, want hulle is die teaterondersteuners of dalk -makers van die toekoms,” het Cornelia Faasen, die hoof- uitvoerende beampte van NATi, gesê.

Andy Lubbe sê dat hy reeds vir baie jare by die Nelspruit Eisteddfod betrokke is en dat dié organisasie hom na aan die hart lê. “Hierdie is ‘n besonderse geleentheid en ek wil die Laeveld se jeug aanmoedig om dit met albei hande aan te gryp,” het hy gesê.

Hierdie meesterklasse word op Woensdag, 27 Julie, om 14:00, 16:00 en 18:00 by die Communio Kerk aangebied. Daar is verskillende klasse vir Engelse, laerskool- en hoërskoolleerders.

Alle kinders met belangstelling in die uitvoerende kunste word genooi om hierdie klasse by te woon. Hier kan hulle dan by die beste van die land kom kers opsteek.

Die inskrywingsfooi is R50 per persoon. Die inskrywingsvorm is op die Nelspruit Eisteddfod- en Innibos-webtuistes beskikbaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button